Ek was onlangs bevoorreg genoeg om die bekendstelling van Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren se nuutse boek propvol vegan geregte, Skepselkos/Earthling Food, by te woon. Hulle vorige plantgebaseerde kookboek, Daar’s ’n Vegan op my Verandah, was uitsonderlik – sommer propvol inspirasie vir eet op ’n nuwe manier. So briljant was dit dat hulle die Gourmand World Cookbook Awards in 2023 daarmee gewen het.

Skepselkos (beskikbaar in Engels as Earthling Food) beloof om net so suksesvol te wees. Die boek is propvol inspirerende nuwe resepte wat toegangklik is en gemaak kan word met alledaagse bestanddele. Ek kook die laaste twee weke ’n hond uit ’n bos uit met hierdie boek. As vleis jou ding is, moenie dink hierdie boek is nie vir jou nie want soveel van die resepte maak perfekte bykosse.

Hierdie lensie-bobotie uit die boek is ’n wenner. Ek het dit al twee keer gemaak – die eerste keer met Louis en Isabella se vegan-vriendelike bolaag en die tweede keer het ek die vegetariese roete gevolg met die meer tradisionele suiwel en eier bolaag soos op my foto hier. My mening? Albei is lieflik maar die vegan bolaag een wen! Nou toe nou. Ek gee vir jou die opsie van beide bolae hieronder.

Wat om hierby te bedien? Ek dink nie regtig die tradisionele geelrys is nodig nie, net bietjie blatjang en ’n sambal met ’n titsel rissie hitte. Ek omhels die wonder van spekboom en voeg ’n paar spekboomblare by!

Skepselkos is die perfekte geskenk vir enige kranige tuiskok wat inspirasie soek vir meer plantgebaseer eet. Hoor ek iemand sê Kerskous?

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE VULSEL
1 koppie gevriesde ertjies
2 uie, fyn gekap
2 knoffeltone, fyn gekap
4E olie
1t vars gemmer, fyn gerasper
1E kerriepoeier (ek het Rajah se warm een gebruik)
2 koppies bruin lensies
3 koppies groente-aftreksel (Ina Paarman s’n is vegan)
1 koppie droë witwyn
sout en peper na smaak
2 tamaties, fyn gekap
½ koppie droë appelkose, fyn gekap
½ koppie droë nektariene, fyn gekap
½ koppie sultanas

OPSIE 1: VIR DIE VEGAN-VRIENDELIKE BOLAAG
1 koppie pampoensade, in kookwater geweek vir 45 min
2 koppies koue water
2t borrie
1t knoffelpoeier
½t mosterdpoeier
1t sout
knip swartpeper

OPSIE 2: VIR DIE VEGETARIESE BOLAAG
1 koppe laevet joghurt (ek verkies die een van Lancewood)
2 ekstragroot eiers
¼t sout

VIR DIE SPEKBOOM-SAMBAL
1 koppie ryprooi tamaties, in klein blokkies gesny
½ koppie fyngekapte rooi ui
2t rooiwynasyn
1t suiker
groot knip sout
1 matige of medium-warm groenrissie, fyn gekap
2E spekboomblare
1E fyngekapte koljanderblare

Kook die ertjies tot sag – gevriesde ertjies vat net so minuut of wat. Dreineer die ertjies en gebruik ’n staafmenger om hulle te puree.

Braai die uie oor matige hitte in die olie tot sag. Voeg dan die knoffel by en braai vir nog ’n minuut. Voeg die gemmer en kerriepoeier by en braai vir nog so minuut of twee. Voeg volgende die lensies, aftreksel en wyn by en laat dit kook. Draai die hitte dan laag, sit die deksel op en prut vir vyf minute. Proe en voeg sout en peper by soos nodig.

Voeg die tamaties, appelkose en nektarien by, bedek en prut oor lae hitte tot die lensies sag is. Verwyder van die hitte en voeg die ertjies en sultanas by. Roer goed deur en skep mengsel in ’n oondvaste bak.

OPSIE 1 – VIR DIE VEGAN-VRIENDELIKE BOLAAG:
Spoel die pampoensade goed onder lopende water af en dreineer. Voeg die sade en al die ander bestanddele by in ’n hoëspoed versapper en blits tot dit heeltemal glad is. Gooi die mengsel oor die bobotie.

OPSIE 2 – VIR DIE VEGETARIESE BOLAAG:
Klits al die bestanddele saam en gooi oor die bobotie.

Bak in ’n voorverhitte 180 grade Celsius oond tot dit geset is en die bolaag begin verbruin – dit vat so 40 minute.

VIR DIE SPEKBOOM-SAMBAL:
Meng al die bestanddele saam (behalwe die koljander) en laat staan vir 15 minute. Roer die koljander by net voor jy bedien.

bedien

6-8

vooraf

40 min

kook

40 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English