Ek’t twee nuwe dinge geleer hierdie week. Ek’s nie seker watter een het my meeste verbaas nie. Hier’s hulle…
- Om ’n suksesvolle, bekende sjef te wees beteken nie jy hoef noodwendig jou lyf moroon te hou, jou pad in die kombuis oop te buffel en só te swets lat die teflon van die keelvrye panne afpeul nie.
- Rooibostee is nie net vir eerste ding in die oggend en weer so drie uur die middag wanneer die versoeking van die melktert in die yskas te groot raak nie. Dis vir drink saam met groente, vleis en vis ook. Hoe gesê? Ek weet, ek weet. Maar hou aan lees, want dalk is jy net so verbaas as ek.
Sien ’n ruk terug kry ek ’n uitnodiging vir ’n kos en tee ‘pairing’. Hemel weet wat dit in Afrikaans is, maar ’n ‘pairing’ is ’n ding wat ek assosieer met kos en wyn. Tee? Haikôna, seker ’n spelfout. Toe nie. Sjef Nic van Wyk (van Kokkedoor faam) sou kook en Mientjie Mouton sou al die pad van die Carmién teeplaas by Sitrusdal kom om te kom verduidelik oor die wonderlikheid van tee by kos. Dinsdagoggend trek ek my dus effe meer ordentlik as gewoonlik aan en vat die pad Durbanville toe om te gaan leer oor kos en tee.
Eerste op die spyskaart was Nic se vanielje-vyekonfyt met parmantige klein broodrolletjies en ’n wonderlike skerp bokmelkkaas van Studio Rose in Durbanville. Daarby gee Mientjie vir ons Carmién se vanielje-tee. Nou die ding van ’n kos en tee ‘pairing’ is maar soos die een met wyn – ’n happie, dan ’n slukkie, dan pure genotlikheid soos die geure in jou mond meng. En mens bedien dit nie vulgêr in groot koppies nie. Nee, jy gebruik klein glasies, niks melk of suiker nie en die tee moenie warmer as 60-65 grade Celsius wees nie. Toe maak ek soos Mientjie verduidelik ek moet, en dis vrek lekker. Die subtiele vanielje in die konfyt en die sagte vanielje van die tee pas perfek. Maar ek ken van plaasbrood met kaas, jêm en ’n koppie rooibos. So wat’s nou so spesiaal?
Duidelik was dit net die openingsalvo om ons sag te maak vir ietsie meer ongewoon. Volgende aan die beurt was klein, fyn groente geposjeer in olyfolie met ’n skuimerige tee sousie ding (as daar skuim op die bord is, wéét mens mos dis ’n properse sjef waarmee jy te doen het). Daarby kry ons tee met laventel, roosknoppies, hibiskus en droeë bessies. Heerlik. En toe ’n ware openbaring… calamari met pesto en pekel-komkommerslaai en ’n suurlemoengras-en-gemmer tee. En terwyl ek nog effe duiselig van die vervoering is, slat Nic my voete onder my uit met lam so sag soos my ouma dit gekook het, ’n ment hollandaise en ’n ment-en-heuningbostee daarby. Dis toe ek besef ek’s verlief – op Nic, wat kan kook dat jou tone krul van die lekker, en op tee by kos.
So baie as wat ek hou van wyn (en dis sommer baie,baie) gaan ek beslis begin eksperimenteer met ongewone rooibos geure saam met kos. Babatreetjies is altyd ’n goeie idee, so terwyl ek dink aan die moontlikhede gaan ek knaag aan ’n stuk van my ouma se piesangbrood. Ek maak hom ekstra vogtig deur bietjie karringmelk by haar resep te sit en, sommer net vir die lekker, gee ek hom ’n soet-suur lemmetjie smeersel bo-op met lemmetjieskil en vars klapper ook. Ek dink die suurlemoengras-en-gemmer tee sal goed daarby werk. Of miskien die ment-en-heuningbos een. Kannie wag om uit te vind nie.
Al wat jy nodig het is…
Vir die piesangbrood
100g botter
190g strooisuiker
1t vanielje-ekstrak
2 groot eiers
280g bruismeel (self-raising flour)
½t sout
3E karringmelk
4 piesangs, baie ryp
Vir die piesangbrood versiering
3E versiersuiker
3E suiker
3E water
1 lemmetjie
vars klapper
Klits die strooisuiker en botter tot dit romerig en lig van kleur is. Klits die eiers en vanielje by die botter/suikermengsel tot gemeng. Sif die bruismeel en sout by en roer in. Voeg die karringmelk by. Druk die piesangs fyn (’n vurk werk goed) en roer dit ook in. Skep die deeg in ’n klein gesmeerde broodpan en bak teen 180 grade Celsius vir ’n uur. Toets met ’n mes. As hy skoon uitkom, is hy reg. Haal uit die oond en laat afkoel. (Ek hou meeste van dié piesangbroodjie hier by dag drie, so ek bêre hom in ’n lugdigte houer vir ’n dag of wat voor ek hom verorber.)
Vir die versiering: Kook 3E suiker saam met 3E water tot al die suiker opgelos is. Sny die lemmetjieskil fyn en kook dit in die suikerstroop vir so drie minute. Dreineer. Meng die sap van die lemmetjie met 3E versiersuiker en bedruip die piesangbrood daarmee. Versier met die lemmetjieskil en dun repies vars klapper. WENK: As jy nie vars klapper het nie, rooster 2-3 eetlepels droeë klapper tot ligbruin en strooi bo-op. As jy nie lemmetjie het nie, vervang dit met suurlemoen
bedien
10-12
vooraf
20 min
kook
60 min
goed om te weet
Rooibos ystee
Gegeurde rooibos is die perfekte basis vir ystee. Jy kan die tee net so gebruik en ys en ment byvoeg, of jy kan vrugtesap bysit. Ek het Carmién se Vintage Romance Flower Tea (met laventel, roosknoppies, hibiskus, lemoenskil en bessies) gemeng met granaatsap, ‘n paar skyfies suurlemoen, mentblare en hope ys. Dit was wonderlik.
lekker saam met
Met wonderlike dinge soos gemmer, roosknoppies, laventel, en ment is dit moeilik vir my om my gunsteling Carmién tee te kies.
Dis landwyd beskikbaar by meeste groot supermarkte. Koop sommer ‘n paar en ontdek jou gunsteling.
Goeie middag
Het dit nou geniet om die stukkie te lees saam met resep sobly daar kom nie koeksoda in dankie My piesangbrood het lekkerrrrr en moooi uitgekom
Die sousie op die brood 3 e suiker en 3 e water met lemmetjie skil kook en dreineer reg maar wanneer kom dit oor die brood saam met die lemmetjie sap en 3 e versiersuiker ? neem so aan. Dink jy mens kan die sousie oorsit en die broodjie dan vries of liewer sousie opsit wanneer die broodjie ontdooi is en bedien word.
Groete
Hi Neeltjie, ek’s bly jy het van die resep gehou. Ja die lemmetjieskil kom heel laaste bo-oor die versiersuiker. Dis vir die mooi en vir die ekstra lemmetjie vars. Ek sal eerder die versiersuiker opsit as die broojie eers ontvries is. Die versiersel kan miskien afdop of kraak as mens hom vries en dan’s dit nie mooi nie. Wat ‘n blink idee om die broodjie te vries!
Ek het n piesang brood resep gegoogle en toe op melkkos en merlot afgekom. Dit lyk na n heerlike blad en warm mense. Ek sal graag saam wil gesels
Welkom Anina!