My eerste ontmoeting met Lanzerac was toe ek agt was. En magtie het dié plek ’n indruk gemaak. ‘Obviously’ nie met hulle wyn nie. Nee, vir ’n poniestert, kaalvoet, loopneus dogtertjie al die pad van die Transvaal af, was die Kaaps Hollandse herehuis van Lanzerac die kat se snor.
Dis die laaste keer wat ek op Lanzerac was… tot so twee weke terug, toe die vrinlike mense van dié eeue oue wynplaas my nooi om te kom rondloer en wyn proe. Dertig jaar (plus/minus natuurlik) is ’n lang tyd. Sou alles nog dieselfde lyk?
Jip, dis so mooi soos ek dit onthou en mooier by die dag, want die Lanzerac lot woel en hulle’t groot planne. Eerste aan die beurt loop maak ek ’n draai by hulle wynproe lokaal. Nou as ek aan Lanzerac dink, dink ek outomaties eerste rosé – in ’n oulike bottel met wulpse vrouekurwes. En dan dink ek Pinotage, want Lanzerac was eerste om hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar te bottel. Hulle maak dit steeds, máár dis nie al wat hulle doen nie. Onder leiding van wynmaker, Wynand Lategan, en ’n toegewyde wynspan, maak Lanzerac wonderlik komplekse vyfster wyne.
Die proelokaal is onlangs heeltemal oorgedoen en ek het net een woord daarvoor – luuks. Dink akkerhout muurpanele, kristalkandelare, diep gestoffeerde stoele… OK misien twee woorde – luuks verby. Maar nie op ’n manier wat my ongemaklik laat voel nie. Neewat, daarvoor is die mense hier te gemoedelik.
Lanzerac landgoed, Stellenbosch: Luuks verby!
Lanzerac het drie wynreekse – daar’s hulle spotgoedkoop elkedag reeks (onder R40) genaamd Alma Mater – seker nie verbasend nie, met die dat die Maties kampus net ’n katspoegie weg is. Dan’s daar hulle Premium enkelvariëteit reeks wyne (vanaf R80) en hulle top Heritage reeks. Teen R250 vir die goedkoopste, is hierdie topvlak ’n bietjie ryk vir my bloed, maar die Premium reeks is ’n fees.
Al drie reekse is beskikbaar vir proe. Die een wat ek sal aanbeveel as ’n ongewone en spesiale wynproe ondervinding, is hulle R70 opsie van vyf Premium wyne saam met sjokolade. Die sjokolade word spesiaal vir hulle gemaak met geure wat mik om die geure in die wyne te beklemtoon. As sjokolade nie jou ding is nie maar jy wil aan iets knaag terwyl jy proe, kies die R75 opsie van vier wyne saam met ’n Boerenkaas verskeidenheid.
Val by hulle pragtige deli langs die proelokaal in na die tyd. Of gaan vir die groot bederf en klim die trappe na hulle piekniek terras met ’n mandjie gepak met die wonderlikste kase, charcuterie, brode, patee en piekels. Skiet die prop op ’n bottel Lanzerac MCC, tuur na die berge in die verte en vergeet jou sorge.
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.
Los 'n Boodskap