Dis lenteblom glorie in die Kaap, my gunsteling tyd van die jaar. Die dae is koel, die wêreld groen van die welkome winterreën en die verduiwelse Suidooster nog grootliks in bedwang. Oktober is die laaste maand wat my mond nog water vir ryker kos, kos soos lamskenkel in rooiwyn. Asof hulle my gedagtes kan lees stuur Welgegund van Wellington se mense vir my ’n bottel van hulle premium rooi versnit, Providence, saam met wynmaker Friedrich Kühne se resep vir lamskenkels. Sy resep het ’n Oosterse klap met gemmer, soja en oestersous. Maar ek het polenta met parmesaan op die brein, en besluit Mediterreens is die pad om te vat.
Al wat jy nodig het is…
4 lamskenkels
1 groot ui, gekap
2 groot wortels, gekap
½ koppie seldery, gekap
2 huisies knoffel, gekap
4E koekmeel
1E tamatiepasta
500ml droë rooiwyn
400ml lamaftreksel
sout
1t swartpeper
2 lourierblare
10cm stiggie roosmaryn
2 klein stiggies tiemie
olyfolie, vir braai
polenta met hope parmesaan ingeroer, vir bedien
Italiaanse pietersielie, vir bedien
baba wortels, stadig pangebraai in ’n leksel botter, vir bedien
Verbruin die lamskenkel in bietjie olie. Verwyder en plaas in ’n oondskottel met deksel. Tuimel die uie, wortel en seldery in dieselfde pan en braai vir vyf minute. (Daar behoort genoeg olie in die pan te wees. Indien nie, voeg net ’n katspoegie by.) Voeg die knoffel by en braai vir ’n paar sekondes. Roer die meel in tot dit verdwyn. Voeg die tamatiepasta, peper, lamaftreksel en rooiwyn by. Kook, al roerend, vir twee minute. Gooi die sous oor die skenkels, bedek en rooster in ’n lae 160 grade Celsius oond vir 2-3 ure tot super sag.
Kook die polenta volgens die aanwysings op die verpakking. Roer ongeskik baie gerasperde parmesaan of pecorino by. Proe vir sout en pas aan. Proe die lamsous ook vir sout en pas aan. (Hoeveel jy nodig het hang af van hoe souterig jou aftreksel was.) Bedien lamskenkels op parmesaan en strooi ’n handvol pietersielie oor. Maak ’n bottel goeie rooiwyn oop en geniet.
OOR WELGEGUND HERITAGE WINES PROVIDENCE 2015
Welgegund Heritage Wines se Providence 2015 is ’n vruggedrewe Rhône-styl vesnit van 60% Shiraz, 30% Cinsaut (1974 erfeniswingerd) en 10% Carignan gemaak van net die beste vrugte. Al die kultivars is apart gegis en het 16 maande in 95% Franse en 5% Amerikaanse houtvate (30% van hulle nuut) spandeer.
Dis ’n intense, komplekse wyn met struktuur en hope donker vrugte en spesery. Die Cinsaut dra rooivrugte en ’n ligte varsheid by, terwyl die Carignan ’n lang einde belowe. Drink dit nou of hou dit vir nog ’n jaar of wat.
Toekennings: Welgegund se Providence 2015 kry vier sterre in die 2018 Platter-gids. By die National Wine Challenge het dit dubbele goud verower, asook silwer by die Decanter World Wine Awards and Concours Mondiale. Prys: Die Providence 2015 is tans teen R320 (uitsluitend BTW) by die kelder te kry en sal binnekort landwyd beskikbaar wees.
bedien
4
vooraf
20 min
kook
3 ure
Baie dankie vir hierdie wonderlike resep. Dit lyk na iets waarmee ek mense kan omkoop. Lekker naweek vir jou.