Granate is omtrent die ‘inste’ vrug waaraan ek kan dink. Maak ’n kostydskrif oop, loer na kosverpakking of na plakkate in koswinkels en jy gaan hulle verseker sien – op enigiets vanaf sjokoladekoek tot rou wors. En soos dit nou maar is met dinge wat gewild is, wys dit in die prys. Heigend.

My verhouding met granate gaan ver terug. Na toe hulle goedkoop was. Want sien, mens kon hulle nie koop nie. Nee, jy moes hulle groei. Inderdaad, elke erf in die Hoëveld dropie waar ek grootgeword het, het met ten minste een granaatboom gespog.

Heeljaar wag jy. As die granate begin rooi word, raak jy opgewonde. Maar jy hou vas. Tot hy so ryp is, hy lyk of hy uit sy skil wil bars. Dan eers pluk jy hom en verslind hom, net daar, onder die boom.

Dis steeds hoe ek my granate verskies. Nie loopneus en kaalvoet in die stof onder ’n granaatboom nie verstaan. Maar net so, die hele vrug, sonder tierlantyntjies. Mens moet dit self oopkry, en die kosbare rooi pitte uit die bitter wit membraan worstel. Niks gewinkel nonsens met die pitte steriel in ’n plastiekbakkie verpak nie.

Toe SABC3 se Expresso oggendprogram my ’n rukkie terug vra om vir hulle iets met granate te maak, sê ek natuurlik ja. Behalwe dat dit ’n sout ding moet wees en nie soet nie, gee hulle my vrye teuels. As ek dink aan met granate kook, staan my kop dadelik Midde Ooste en Morokko toe. Eers dink ek tagine. Maar dis ’n vreeslike storie vir ontbyt TV. Nee, ek’t iets vinnig en maklik nodig.

Ek gryp lam, sny dit in lang dun stroke, en marineer dit in dik Griekse jogurt met al die speserye wat mens gewoonlik in lam tagine gebruik. Ryg hulle op sosatiestokkies en braai hulle in ’n blits. En bedien hulle met vrugtige koeskoes barstensvol ment, dadels, neute en granate. Die lewe is nie die moeite werd sonder sous nie, dus maak ek sommer ’n granaat-raita ook. Sit dit net so voor, of maak ’n ‘wrap’ en vou die lotjie toe in reuse slaaiblare. Vinnig, maklik, gesond verby en vrek lekker.

Al wat jy nodig het is…

Vir die sosaties
500g lam ‘steaks’
klein bakkie (150g) volroom Griekse jogurt
3 groen kardamom sade, rofweg oopgekap met die agterkant van ‘n mes
1t fyn koljander
1t fyn komyn
½t gewone paprika (nie die gerookte een nie)
¼t rooipeper
¼t gemmer
¼t borrie
dun sosatiestokkies, in water geweek vir 10 minute

Vir die koeskoes
¾ koppie plein koeskoes
¾ koppie kookwater
1 sakkie vloeibare hoenderaftreksel (ek’t Ina Paarman s’n gebruik)
¼ koppie amandelvlokkies, in ‘n droë pan gerooster tot ligbruin
½ koppie pistasieneute, in ‘n droë pan gerooster en dan rofweg gekap
½ koppie granaatpitte
groot handvol vars koljanderblare, rofweg gekap
3E vars ment, fyngekap
1 medium-sterkte rooi rissie, saadjies verwyder en fyngekap
¼ koppie vars dadels, gekap (of gebruik die ekwivalent in sultanas, of ‘n mengsel sultanas en droë appelkose)

Vir die raita
¼ koppie komkommer, in klein blokkies gesny
¼ koppie granaatpitte
klein houertjie (150g) volroom Griekse jogurt
knippie sout
stewige knip komyn

Om te bedien
Groot slaaiblare

Sny die lam in lang stroke, omtrent 2cm wyd en 1cm dik. Meng die jogurt en al die sosatie speserye. Voeg by die vleis, bedek en marineer in die yskas vir ten minste ’n uur, verkieslik twee.

Sit die koeskoes, kookwater en hoenderaftreksel in ’n groot bak, bedek met ’n bord en laat vir ’n halfuur staan sodat die koeskoes al die vloeistof absorbeer. Pluis koeskoes dan liggies met ’n vurk om die korreltjies te skei. Meng twee koppies van die koeskoes met die res van die koeskoes bestanddele.

Meng die raita bestanddele. Hou ’n paar van die granaatpitte eenkant om bo-oor te sprinkel vir die mooi.

Verwyder vleis uit die yskas, ryg in ’n ‘zig-zag’ patroon met die lengte langs op sosatiestokkies. Sprinkel rojaal met sout en braai in olyfolie in ’n warm pan of op ’n warm braai tot gaar.

Bedien die sosaties onmiddelik saam met die koeskoes, raita en groot slaaiblare en laat elkeen sy eie perfekte Midde-Oosterse slaaiblaar ‘wrap’ bou.

bedien

3-4

marineer

1 uur

kook

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Hoe om granaatpitte uit te kry

Om granaatpitte uit daai wit membraan te kry kan ‘n vreeslike gedoente wees. Die maklikste manier om dit vinnig te doen, is om die granaat in die helfte of kwarte te sny. Hou die stukke (pit kant na onder natuurlik) oor ‘n groot bak en slaan die skil hard met die agterkant van ‘n eetlepel. Siedaar, die pitte pop uit in sekondes.

lekker saam met

My keuse hierby is een van my gunsteling rosé ontdekkings hierdie jaar – Anthonij Rupert se Protea rosé. Dis gemaak van Mourvedre, Cinsaut en Shiraz druiwe afkomstig van die Darling, Swartland en Wellington wynstreke.

Wonderlike bessie en kersie op die neus en die tong word goed gebalanseer met vars suur. Hierdie is ‘n uitstekende elke-dag kopie met ‘n kelderprys van net R55 per bottel! Beste van als? Die fraai bottel wat jy kan hou vir asyn, olyfolie, borrelbad, opwas seep…

Protea

scroll-main

Ook beskikbaar in: English