Vra wynliefhebbers oor Suid-Afrika se wynstreke en gewoonlik noem hulle eerste die Boland – Stellenbosch, die Paarl, miskien Franschhoek. Die koeler kustelike areas kry minder aandag. Ek’s self soms skuldig daaraan, en dis ’n jammerte want hierdie streke lewer wyne van formaat. Die Hemel-en-Aarde vallei is een van hierdie koeler kusstreke en La Vierge ’n uitstekende voorbeeld van die tipe wyne wat in hierdie terroir moontlik is.
Hemel-en-Aarde is die tuiste van premium Suid-Afrikaanse Chardonnay en Pinot Noir. La Vierge maak ander wyne ook, maar hulle spesialiteit is hierdie twee Boergondiese wyne wat so goed aard in die koel, maritieme klimaat en kleigronde van die Hemel-en-Aarde.
Ek het La Vierge tien jaar terug ontdek gedurende ’n luilekker verkenning van die vallei. La Vierge sit hoog op in die Hemel-en-Aarde met van die beste vistas wat daar is. Hulle groot stoep waar jy kan wyn proe kyk uit oor die hele vallei met Walkerbaai in die verte. Te mooi vir woorde. Ek onthou die uitsig steeds, wat ek vergeet het in die jare sedertdien is hoe goed hulle wyne is. Dus was ek in my noppies toe hulle onlangs vir my ’n bottel van hulle Jezebelle Chardonnay en The Affair Pinot Noir stuur om te proe. Absoluut wonderlik, en dis nie net ek wat so dink nie. Die beoordelaars van die Investec Trophy Wine Show stem saam.

La Vierge Jezebelle Chardonnay
La Vierge Jezebelle Chardonnay 2021 – 97 PUNTE
Hulle het La Vierge se 2021 Jezebelle Chardonnay ’n allemintige 97 punte gegee, net een minder as die algehele Chardonnay wenner. La Vierge se Chardonnay was een van net 29 goue medaljes uit 670 inskrywings en die enigste van die Hemel-en-Aarde wat goud gekry het.
En La Vierge se Jezebelle is nie ’n ‘one-hit wonder’ nie. Nee, oor die jare het hierdie Chardonnay sommer ’n rits toekennings en erkennings ingepalm:
- Platter het beide die 2019 en 2020 Jezebelle 4.5 sterre gegee
- Dit het ’n Top Tien plek gekry in die Winemag Chardonnay Reports vir beide die 2019 en 2020 oesjaar
- Die 2020 het ook ’n Michelangelo Dubbel Goud gekry en Tim Atkin het dit 90 punte toegeken
- En dan’s daar die pluimpie van Decanter wat dit 91 punte vir die 2019 oesjaar gegee het.
Inderdaad indrukwekkend. Die druiwe afkomstig van ses verskillende wingerde word vir Jezebelle gebruik. Die wyn spandeer agt maande in Boergondiese eiekehoutvate voor dit vermeng en gebottel word. So wat kan jy verwag? Op die neus is dit hoogs aromaties met lemmetjie, wit bloeisels en steenvrugte. Op die tong is dit vars met goeie tekstuur en ’n maritieme minerale karakter. Dis kompleks met ’n lang einde en ’n uitstekende voorbeeld van wat Suid-Afrikaanse Chardonnay kan wees in die regte terroir en in die hande van die regte wynmaker. La Vierge se Jezebelle Chardonnay is beskikbaar by hulle kelder of aanlyn teen R170 per bottel.

La Vierge The Affair Pinot Noir
La Vierge The Affair Pinot Noir 2021 – 92 PUNTE
Die beoordelaars het The Affair Pinot Noir ’n indrukwekkende 92 punte in die Trophy Wine Show gegee – die enigste Pinot Noir van die Hemel-en-Aarde om meer as 90 punte te kry. The Affair is ’n toonbeeld van die liefdesverhouding tussen Pinot Noir se sagte vroulike kant met blomnote en die wyn se meer manlike donker ‘forest floor’ aromas. Dit het nege maande in Franse eikehout spandeer en is verder in die bottel verouder voor vrystelling. Soos met die Jezebelle het The Affair ook ’n stewige reputasie. Van sy toekennings sluit in:
- Vier sterre van Platter vir beide die 2019 en 2020 oesjaar
- Die 2019 het ook Veritas goud en Vitis Vinfera goud gekry asook goud in die Merit Awards.Kompleks en intens, hierdie is nie ’n lig-in-die-broek knaap wat jy vir ’n braai oopmaak nie. Nee, dis ’n spesiale geleentheid koswyn. Kry dit by die La Vierge kelder of aanlyn teen R180 per bottel.
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ’n resensie nie, maar eerder ’n persoonlike aanbeveling.
Los 'n Boodskap