Kyk, ek is lief vir bees, sommer die hele dier. Maar daar is ’n paar dele wat my tone laat krul van die lekker. Beesstert is een. Die ander een is kortrib (shortrib). Hierdie is nie ’n by-die-huis-sesuur, eet-halfsewe nommer nie. Soos beesstert, het hy ’n paar ure in die oond nodig. Ek maak hom op lui Saterdagmiddae as die rugby aan is en die wêreld is vol vrede. Die geur trek deur my hele huis en maak Merlot mal van die lus. So eenvoudig soos kan kom, met net uie, spek, wortels en rooiwyn – maar hy’s lekker verby. Jy kan seker neuk met ‘n bietjie roosmaryn, ‘n loerierblaar of tiemie. Maar hy’t dit nie nodig nie.
Al wat jy nodig het is…
1kg bees kortrib, in groterig blokke gesny
100g spek, klein gesny
1 groot ui, geskil en klein gekap
2 koffelhuisies, geskil en in die helfte gesny
4 groot wortels, geskil en in groot stukke gesny
1E tamatiepasta
500ml rooiwyn
400ml beesaftreksel (1 blokkie sal doen)
sout
swart peper
5E koekmeel
4E olyfolie
Italiaanse pietersielie
Geur die meel met ’n kwart teelepel sout en ’n draaitjie peper. Dompel die vleis daarin en skud die oortollige meel af. Verhit ’n pan tot warm, voeg olyfolie by en braai die vleis tot goudbruin (moenie alles op een slag braai nie, die temperatuur val te veel en die spulletjie begin stoom – ’n grys, waterrige gemors waarvan jy nie eintlik kan herstel nie). Verwyder die vleis en sit dit in ’n oondvaste bak met ’n deksel. Braai nou die uie en spek in die pan waarin jy die vleis gebraai het. Sodra die uie lig goudbruin is, voeg een eetlepel meel by en braai vir ’n minuut. Voeg dan die tamatiepasta en knoffel by en braai vir ’n minuut.
Gooi nou die rooiwyn by en kook vir nog ’n minuut. Maak seker dat jy met al die gebraai en geroer al die wonderlike gekaramaliseerde aanbrandsel op die bodem van die pan lekker loswiemel. Dis pure geur. Voeg nou die wortels, vleisaftreksel en ‘n kwart teelepel swart peper by. Gooi die lot oor die vleis, bedek en bak teen 170 °C vir drie ure. Loer so af en toe of hy bietjie water nodig het. Sodra die vleis wonderlik sag is, is hy reg. Proe of hy nog sout nodig het en strooi ‘n groot handvol rof gekapte pietersielie oor. Perfek saam met kapokaartappels (‘mash’ vir die ons wat al begin het om hierdie wonderlike woord te vergeet).
bedien
4-5
vooraf
20 min
kook
3 ure
goed om te weet
Lekkerste kapokaartappels ooit
Ek skil nie my aartappels as ek kappokaartappels maak nie. Ek hou hulle heel en kook hulle in die skil tot gaar. As ek nou rêrig wil uithang, rooster ek hulle in hulle skil in die oond. Sodra hulle gaar is, skil, druk fyn en gooi nie net melk nie, maar ook ‘n stewige klont botter by. Moenie die sout vergeet nie.
My spesiale bederf? Twee of drie eetlepels room by en, as ek het, rasper ek sommer ‘n stewige skoot pecorino kaas ook by. Nou seker nie die gesondste manier om ‘n aartappel te eet nie, maar mens doen dit darem nie elke dag nie.
lekker saam met
Hierdie is ‘n ryk, vol dis wat Cabernet Sauvignon goed kan hanteer. Een van my top-waarde gunstelinge is Beyerskloof se 2011 Cabernet/Merlot vermenging.
Diep in kleur danksy die 55% Cabernet Sauvignon, maar toeganklik en sag met wonderlike donker vrugte en ‘n titsel spesery. Dis fantastiese elke-dag waarde hier by die R60 merk.
Hallo daar,
Ek het op jou blog afgekom deur Michael Olivier se nuusbrief, dis so lekker om jou afrikaanse plat op die aarde onopgesmukte lekkerlees strories en resepte te lees. Ek het al heelwat gemerk en gaan beslis ‘n paar probeer !
Goeie beligting en pragtige foto’s !
Dankie Johan!