Murgpampoentjie ‘spaghetti’… dis die koswêreld se bottelblondine met D-cup implants – eenvoudig nie die ware Jakob nie. Maar mense, doen jy dit reg, kan fake fabulous wees. Loer maar net na Hollywood.
Hier by M&M verkies ons properse pasta, gemaak met meel en eier, soos my semi Italiaanse ouma dit gedoen het. Maar ek verstaan ons is nie almal so nie. Dis met dié van julle in gedagte dat ek na maande se vasberade teenkanting uiteindelik swig en ’n pakkie murgpampoentjie (baby marrow) spaghetti by Woolies loop koop.
Terug by die huis lees ek die aanwysings aandagtig. Smyt dit in die mikro vir vier minute, laat staan vir twee en jy’s reg vir smul. Toe nou nie, want sien en dink nie die pop of knaap wat dáái geskryf het kook nie. Doen jy wat die pakkie sê, sit jy met ’n slymerige paperasie. Iets wat nie eens ’n fanatiese vegetariër pas klaar met ’n maandlange hongerstaking mond aan gaan sit nie.
Nee wat, nes gewone pasta, wil kamma pasta al dente wees. Wat beteken hy’t ’n effense fermheid as jy hom byt. In die geval van hierdie murgpampoentjie spaghetti verkies ek hom ekstra ferm – soos in Tant Sannie sal haar tande moet loop insit voor ete.
Hierdie resep is blitsvinnig (5 minute), bitter gesond (g’n niks botter of room nie) en verbasend lekker (ék – die koningin van botter en room – eet die lot).
Al wat jy nodig het is…
2E goeie olyfolie (ek’t die Greenleaf Olive Company se Saint Sebastian Bay Extra Virgin Olive Oil gebruik)
350g pakkie murgpampoentjie spaghetti (Woolies het)
1 knoffelhuisie, fyngekap
¼t droë rissievlokkies
skil van een suurlemoen, fyn gerasper
4 hoogvol eetlepels fyngekapte pietersielie
1E suurlemoensap
1 hoogvol eetlepel klein non pareilles kappertjies (Woolies het)
fetakaas
sout na smaak
Verhit ’n groot dikbodempan tot baie warm. Voeg die olyfolie by en, na tien sekondes, die murgpampoentjie spaghetti, knoffel, suurlemoenskil en rissie. Roerbraai baie vinnig oor hoë hitte. Ek hou van die knars so ek’t myne net 30 sekondes gebraai. As jy dit sagter verkies, braai dit vir ’n minuut. Voeg die pietersielie, kappertjies, suurlemoensap en ’n knip sout by en skep dadelik op. Krummel bietjie feta oor en gee hom nog ’n paar druppels olyfolie net vir die ekstra lekker. Hierdie resep bedien een as ’n vegetariese hoofmaal en twee as ’n bykos. Loer na GOED OM TE WEET hier onder vir nog idees met hierdie resep.
bedien
1-2
vooraf
4 min
kook
1 min
goed om te weet
Nog idees met hierdie resep
1) Vir ekstra umami diepte, smelt twee ansjovis filette in die olyfolie voor jy die spaghetti bygooi.
2) As rissie jou nie aanstaan nie, vervang dit met vars gemaalde growwe swartpeper. Die peper werk wonderlik met die suurlemoen en feta. Gebruik net baie!
3) As jou beursie dik is, voeg ingelegde artisjokharte ook by.
4) ’n Paar ontpitte groen olywe werk ook.
probeer dit
Wanneer ek kan, koop ek plaaslik. Twee van my gunsteling bekostigbare olyfolies is van die Greenleaf Olive Company. Hierdie familieonderneming (hier duskant Malgas naby Swellendam) se doel is om wêreldgehalte olyfolie te maak wat nie ’n gat in jou broek skeur nie.
My plaaslike Checkers hou dit aan en die prys is inderdaad sommer baie billik vergeleke met ander. Die GOC maak twee verskillende olyfolies: ’n sagter een genaamd Greenleaf en ’n effe meer pikante een, Saint Sebastian Bay. Met hierdie resep wil ek soveel kitsgeur as moontlik hê, dus gebruik ek die effe sterker Saint Sebastian Bay hier.
Mal oor die prys, mal oor die gehalte en mal oor die handige tuit wat hulle sommer so in die doppie inbou. Tog te slim, nes Merlot.
As ek drie wense in die lewe mog kry, sal ek al drie wees dat jy my buurvrou moet wees! Dankie dankie vir vandag se murgpampoentjie spaghetti, heerlik.
Hoop jy geniet Letsie. :)
Ai, Lizet… Ons is nogsteeds besig met DIE dieet (jou suurlemoenhoender bly ‘n treffer) en vanaand is hierdie mannetjie op die spyskaart. Ek het nooit gedink dat MURGPAMPOENTJIES my sal laat kwyl nie, maar, wel – dit het! Baie dankie!
Bly om te hoor die hoender is ‘n treffer. Hoop hierdie murgpampoentjie resep word nog ‘n banting staatmaker!
Dankie vir die resep,dit word by my spyskaarte gesit.