Ek kan Errieda du Toit sommer soen. Nie oor dat sy ’n stunning vrou is nie – dít is hierdie kreatiewe meesterbrein agter Koekedoor en Kokkedoor vanselfsprekend – maar omdat sy vir my ’n geskenk stuur wanneer ek dit die nodigste het. Soos ons almal seker maar, skarrel ek soos ’n malle die laaste paar weke om alles wat gedoen moet word (vóór 15 Desember) gedaan te kry. En met die dat ek so besig is, is ek stil met die resepte. Maar so pae dae terug daag ’n boks Kiri en Laughing Cow kaas op by my voordeur, saam met Kiri-roomkaas marmerbrownies wat Errieda gebak het.
Kiri en Laughing Cow – wat tot dusver ingevoer is van Frankryk af – word nou plaaslik in George gemaak. Ekstra werk vir die Tuinroete se mense en ’n broodnodige ekonomiese inspuiting – dis mos nou gawe nuus. Errieda sê hierdie brownie-resep wat sy vir Kiri ontwikkel het is die beste van twee wêrelde. “Die blokkies kombineer die romerigheid van gebakte kaaskoek met die fudgerige lekkerte van die klassieke brownie.” Ek stem. Dankie Errieda dat jy die resep en pragfoto met ons deel!
Al wat jy nodig het is…
Brownie-beslag:
115 g botter, in blokkies gesny
225 g semi-soet sjokoladebrokkies
125 ml suiker
2 ekstra-groot eiers
7,5 ml vanieljegeursel
103 g koekmeel
45 ml kakaopoeier
5 ml kitskoffiepoeier, opsioneel
1 ml sout
Roomkaas-beslag:
1 x 200 g houer Kiri-roomkaas, kamertemperatuur
60 g suiker
1 ekstra-groot eier
2,5 ml vanieljegeursel
Voorverhit die oond na 180 °C. Voer ‘n 20 cm vierkantige koekpan met bakpapier, met ‘n oorhang van die papier aan twee kante (om later die gebakte brownies maklik in een stuk uit die pan te kan lig). Spuit die papier liggies met kleefvrye sproei.
Brownie-beslag: plaas die botter en die sjokoladebrokkies in ‘n groot bak en mikrogolf 30 sekondes op ‘n slag tot net gesmelt; of smelt dit in ‘n dubbelkoker oor sagkokende water. Roer tot glad en koel af vir 5 minute. Klits die suiker by, klits die eiers een vir een by en dan die vanieljegeursel. Voeg die meel, kakaopoeier, koffiepoeier (indien gebruik) en sout by en roer liggies tot net gemeng. Reserveer ¼ van die browniebeslag en smeer orige ¾ van die beslag in die pan.
Kaaskoekbeslag: Klits die roomkaas en suiker saam in ‘n mengbak tot klontvry en romerig, voeg die eier en vanieljegeursel by en klits tot glad. Giet die kaaskoekbeslag oor die browniebeslag in die pan.
Voeg 15 ml baie warm water by die gereserveerde browniebeslag en roer tot glad. Skep lepeltjiesvol van die browniebeslag oor die kaaskoeklaag en meng die twee beslagte in marmerpatrone met ‘n sosatiestokkie of mes.
Bak vir 30-35 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Laat die brownies heeltemal afkoel in die pan voor dit uitgelig word. Sny in blokkies en verslind.
bedien
10
vooraf
20 min
bak
35 min
Haai, Lizet. As ‘n gebore en getoë Georgiet voel ek vriendelik verplig, nee, GENOOP om hierdie brownies te maak. Goeie genade… Dit lyk soos (my idee) van kos vir die gode. (wonder of dit jou sjok fudge kan ewenaar?? 😉😉)