Soufflé is ’n vloekwoord. Ek’t ’n bietjie rondgevra onder my vriende en almal’s dit eens – hulle’s so bang vir soufflé maak as vir ’n oudit deur Jan Taks. Amper so bang as vir ’n nag in ’n sel saam met ’n spul brekers met behoorlike ‘tattoos’ en onbehoorlike bedoelings.
Ek was nog nooit in die tronk nie, maar ek het donkiejare gelede eenkeer vir iemand in Pretoria Sentraal gaan kuier (moet liefs nie vra nie). Dit het nie juis lekker gelyk nie. SARS het hierdie jaar besluit ek’s ‘n verdagte burger en dis hoogtyd dat hulle my en my karige finansies oudit. So ek kan bevestig dís ook nie so lekker nie. Daar’s goeie rede om bang te wees vir hierdie goed.
Maar hier’s nou die ding met ‘n soufflé – dis rêrig ’n geval van gogga maak vir baba bang. Daar’s absoluut niks daaraan nie. Kry ’n spul lug in eierwitte in, vou dit by ’n dik souserige ding propvol geur, gooi dit in die oond en vyftien minute later het jy ’n perfek opgepofte, veerligte soufflé. Lyk of jy ure gesloeg en vreeslik moeite gedoen het. Lyk.
Ek’s mal oor hierdie resep want jy kan meeste van die werk sommer die vorige dag al kan doen, ideal vir onthaal. As jou gaste eers daar is, glip jy net vir vyf minute kombuis toe. Dan kan jy maar verder gaan kuier en jou oond los om die res te doen. Dis perfek vir ’n ‘brunch’, middagete of ’n ligte aandete met ’n groenslaai.
Al wat jy nodig het is…
4E botter
4E koekmeel
1¼ koppie warm melk
¼ koppie vars room
2 koppies sterk verouderde Cheddar-kaas (koop die beste wat jy kan kry, hoe sterker hoe beter), gerasper
½t sout
½t Dijon-mosterd
½t vars tiemie, gekap
4 ekstra groot eiers (NB: teen kamertemperatuur)
200g spek, gekap en gebraai tot gaar
4E winkel uie-marmelade (jy kan jou eie maak, maar die hele idee hier is maklik en vinnig)
Vir jou soufflé bakkies: Smelt botter en borsel die kante en bodem van die soufflé bakkies daarmee. Gooi broodkrummels in elke bakkie en maak seker die hele bakkie is gevoer met die krummels. Skud enige oortollige krummels liggies uit. Sit bakkies opsy.
Skei die eiergele en eierwitte. Smelt 4E botter in ’n dikbodempot en gooi die koekmeel by. Roer deur en kook op ’n lae hitte vir ’n minuut. Gooi geleidelik die warm melk en room by terwyl jy deurentyd klits om klontjies te verhoed. Kook oor ’n lae hitte vir tien minute en hou aan roer. Verwyder sous van die hitte af en voeg die kaas, tiemie, sout en mosterd by. Roer tot die kaas gesmelt is. Klits en roer nou die eiergele by tot die sous satynglad is. Sit opsy.
Klits die eierwitte tot hulle styf is. Vou drie groot eetlepels van die eierwitte by die kaassous in. Vou dan die res van die eierwitte versigtig in. Die sleutelwoord hier is ‘vou’, nie ‘roer’ nie! Jy wil soveel van die lug as moontlik behou om te verseker dat jou soufflé veerlig is. Sit ’n eetlepel van die uie-marmalade in elke soufflé bakkie, sowel as 50g gebraaide spek. Maak die soufflé bakkies vol met die eiermengsel. Gebruik jou duim om ’n keup alom die rand van die mengsel te trek. Dit help dat die soufflé eweredig en fraai rys.
Sit die soufflé bakkies op ’n warm bakplaat in ’n voorverhitte oond teen 200 grade Celsius. Die kooktyd sal afhang van hoe groot die bakkies is. Hierdie resep maak vier hoofmaal-grootte individuele soufflés en het 17 minute in die oond gevra. Soufflés in kleiner bakkies kan so min as 12 minute nodig hê en een groot een so 35 minute. Hou dit dop, as dit opgepof en mooi bruin is, is dit reg. Bedien die soufflé onmiddellik!
Kombuisgodin: Jy kan die kaassous die vorige dag maak, met kleefplastiek bedek en in die yskas sit. Doen dieselfde met die ongeklitste eierwitte. Haal uit en laat die sous en eierwitte kamertemperatuur bereik. Klits dan die eierwitte, voeg dit by die kaassous en hy’s reg vir die oond.
Nog idees:
- Jy kan die spek en uie heeltemal uitlos en net ’n basiese kaas-soufflé maak.
- Speel met die kaas en vervang van die Cheddar met Parmesaan of Pecorino.
- Speel met kruie en voeg hope pietersielie of grasuie (chives) by die mengsel in plaas van die spek en uie.
bedien
4
vooraf
30 min
kook
17 min
goed om te weet
Flopvrye styfgeklopte eierwitte
- Gebruik eiers wat kamertemperatuur is
- Klits hulle in ’n glasbak of staalbak eerder as ’n plastiekbak
- Maak seker die bak is silwerskoon, die kleinste bietjie olie of vetterigheid in die bak of aan jou klitser gaan moleste maak
- As jy eiergeel in jou eierwit kry, moenie dink jy kan dit uitskep en lustig voortgaan nie. Begin maar weer.
- Om te sien of jy genoeg geklits het, tel die bak op en hou dit effe onderstebo. As die eierwit aan die bak bly kleef soos ’n bosluis aan ’n straatbrak, is hy reg. As dit lyk of dit gaan uitloop, klits maar nog.
lekker saam met
Semillon is my keuse vir hierdie soufflé. Dis effe ongewoon om Semillon op sy eie te kry want dit word meestal gemeng met Sauvignon Blanc om ‘n SB bietjie gewigtiger te maak. Ek’s mal oor hom op sy eie. Semillon is ongelukkig aan die duur kant. ‘n Gunsteling is Nitida s’n, hier neffens die R100.
Effe goedkoper maar ook uitstekend is Ormonde se Ondine Semillon. Dis hier by die R60 merk. Ek het dit al voorheen genoem. Wat kan ek sê, as iets goed is, is dit goed.
Los 'n Boodskap