Sê hollandaise en menige skrik hulle asvaal. Want die gogga-maak-vir-baba-bang stories oor die puntenerigheid van hollandaise en sy ander Franse neef, béarnaise, loop dik. En dis sommer bog, want volg jy drie basiese reëls is kanse goed jy kry dit reg keer op keer. Hier’s hulle:
1: LAE HITTE POP. Want sien hoë hitte + eiergeel = roereier. En dis nie wat jy soek nie.
2: GEDULD ENGEL. Want gooi jy die botter te vinnig by die eiergeel skei die lot.
3: ELEKTRISITEIT. Want met die hand klits maak my moeg.
Daar’s drie maklike maniere om hollandaise te maak en hulle werk almal.
Al wat jy nodig het is…
gele van twee jumbo of ekstragroot eiers (gebruik ‘free range’)
1E vars suurlemoensap
1E water
125g gesoute botter (goeie botter is noodsaaklik, betaal daai bietjie ekstra vir Lurpak of Kerrygold)
ekstra suurlemoen en sout na smaak
METODE #1 – met gesmelte botter
Smelt die botter in ’n klein pot en skep enige skuim af. Sit dit opsy. Kies ’n diep bak wat netjies pas in ’n pot. Gooi bietjie water in die pot en laat dit liggies prut. Maak seker die bodem van die bak raak nie aan die water nie. Sit die eiergeel, water en suurlemoen in die bak en klits dit met jou elektriese handklitser tot dit lig en romerig is en begin verdik. Gooi dan baie stadig die gesmelte botter by terwyl jy aanhou klits. Sodra die sous so dik soos dunnerige vla is, is hy reg. Verwyder van die hitte en proe of hy nog ’n skeut suurlemoen nodig het (ek voeg gewoonlik ekstra by want ek verkies my hollandaise sous parmantig pikant). Proe ook vir ekstra sout.
METODE #2 – met sagte kamertemperatuur botter
Volg die instruksies soos vir die eerste metode maar in plaas van gesmelte botter gebruik jy klein blokkies sagte kamertemperatuur botter. (Makliker gedaan in die somer as in die winter.) Klits die blokkies een op ’n slag by en maak seker dis opgelos en ingewerk voor jy die volgende een byvoeg. Hierdie metode lewer ’n dikker, romerige hollandaise as metodes een en drie. As dit te dik na jou sin raak, klits eenvoudig ’n eetlepel of wat water by. Proe vir sout en ekstra suurlemoen soos in metode een. (NOTA: Van al drie metodes is hierdie een die enigste met ’n effense nuk want dis makliker om die eiers in roereier te verander. As jy dus jou tone met hollandaise natmaak, probeer metodes een en drie eerste.)
METODE #3 – in jou versapper
Waarskynlik die maklikste metode vir die bang kok. Plaas die eiergeel, water en suurlemoensap in jou versapper en klits tot dit lig en romerig begin raak. Gooi die warm botter in ’n beker met ’n tuit en drup dit stadig in terwyl jou versapper deurentyd aan is. Die hitte van die warm botter sal die eiergele kook en verdik. Proe vir sout en ekstra suurlemoen soos in metode een.
NOTAS:
1) Hollandaise moet warm bedien word. Jy kan dit vir ’n ruk warm hou in die bak op die pot water. Maak net seker die stoof is af sodat dit nie verder kook nie.
2) Indien jou hollandaise te dik is, verdun dit met bietjie water. As jou hollandaise skei, klits ’n ysblokkie by, dit sal dit waarskynlik red.
3) Hollandaise is wonderlik op wit gestoomde vis en aspersies. Saam met ’n geposjeerde eier en ham op ’n Ingilse ‘muffin’ is dit natuurlik ‘Eggs Benedict’, lekker verby vir ontbyt.
bedien
2-3
vooraf
0 min
kook
10-15 min
Los 'n Boodskap