Afrikaans is ’n wonderskone taal, maar daar’s ’n paar woorde wat my nie aanstaan nie. ‘Prei’ is een van hulle. Klink soos ’n mediese kondisie – soos in “my preie jeuk van laasweek al af vreeslik dokter, seker maar die drinkery”. Sien wat ek bedoel? Horribale woord.
Gelukkig proe hulle beter as wat hulle klink. Preie (‘leeks’) behoort aan dieselfde familie as uie, maar hulle proe en reageer heel anders as uie in resepte. Kook hulle en hulle kry ’n wonderlike soet delikate uie karakter. Hoender en preie is natuurlik groot pêlle – in enige ding van pasteie, tot bredies, tot sop. Dit werk eenvoudig net.
Maar in die Melkkos en Merlot kombuis hou ons van anders en nuut. Toe dag ek wat van as ek hierdie tradisionale wenkombinasie omtower in ’n burger? En wat van as ek bietjie kaas bo-oor smelt hier heel aan die einde?
Bedien hierdie burger tussen twee reuse swart sampioene as jy ‘bant’. Ek’s so geheg aan my stysel soos ’n eenjarige aan haar fopspeen, dus pak ek die lotjie op ’n vet sny ciabatta wat ek rooster met ’n sweempie olyfolie, knoffel en roosmaryn. Hier’s hy: my hoender, prei en sampioen burger. Ekstra lekker met ’n groot lepel rissie-en-tamatiekonfyt.
Al wat jy nodig het is…
400g hoender maalvleis (of 4 vellose hoenderborsies gemaal in jou voedselverwerker)
¼t growwe swartpeper
½t sout
2 koppies preie, fyn gesny (slegs die wit deel)
3E gesoute botter
½ koppie gerasperde Emmental kaas
4 groot swart sampioene (8 as jy ‘bant’ en die brood uitlaat)
olyfolie
4 dik snye ciabatta
1 knoffelhuisie
1 takkie vars roosmaryn
slaaiblare, vir bedien
winkel rissie-tamatiekonfyt, vir bedien
Sweet die preie oor ’n lae hitte in die botter tot hulle sag en soet is. Voeg die preie, sout en peper by die maalvleis en meng goed deur. Vorm burgers, bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir 15 minute.
Maak intussen die ciabatta. Plaas die snye op ’n bakplaat onder jou roosterelement en rooster tot bruin. Verwyder en vryf die geroosterde kant liggies met die knoffelhuisie. Draai om, verf lig met olyfolie en plaas terug onder die rooster tot bruin. Meng die roosmaryn met ’n klein skoot olyfolie en sprinkel op die brood vir die laaste minuut se rooster (doen jy dit te vroeg, brand dit). Verwyder brood en sit eenkant.
Braai die sampioene in bietjie olyfolie met ’n klontjie botter tot gaar. Verwyder van die hitte en hou eenkant.
Braai die hoender burgers in olyfolie tot goudbruin en deurgaar. NB: hou die hitte medium-laag, braai jy dit te vinnig sal die hoender buite brand en binne nog rou wees. Sodra die hoender deurgaar is, sprinkel die kaas op en bedek met ’n deksel vir ’n paar sekondes. Die stoom van die pan sal die kaas smelt.
Verhit die sampioene indien nodig en bou dadelik jou burger. Hoe jy hom aanmekaar sit is jou saak, maar ek dink burgers is soos ’n goeie matriekafskeid ‘up hairdo’ – hoe hoër, hoe beter. Ek hou die spulletjie stabiel met ’n elegante klein sosatiestokkie.
bedien
3-4
vooraf
15 min
kook
15 min
goed om te weet
Die perfek gevormde burger
Ek hou nie daarvan om my burgers met die hand te vorm nie. Dis nie dat ek gril nie, verstaan. Dis dat die kante onvermydelik dunner as die middel is, wat beteken die spul kook oneweredig.
Vir perfekte ronde burgers wat dieselfde dikte regdeur is, gebruik ek ‘n groot ronde koekiedrukker of voedselring om my burgers te vorm.
As jy nie het nie, moenie geld spandeer nie. Gebruik eenvoudig ‘n blikoopmaker om die deksels van ‘n tunablikkie te verwyder. Was dit en siedaar, jy’t ‘n perfekte ronde burger ring.
lekker saam met
Daar’s ‘n nuwe gier wat al meer wyn ouens op hol het en dis ‘n goeie ding: die kombinasie van Chardonnay en Pinot Noir om pragtige sagte ligpienk wyne te maak. Met die dat ek effe kens is oor Frankryk is pienk wyn natuurlik my ding. Twee van my gunsteling Pinot Noir/Chardonnay vermengings is die van Leopard’s Leap.
Hulle Classic een is 70% Chardonnay en 30% Pinot Noir. Dis barstensvol rooibessies en Turkish Delight en beskikbaar op Leopard’s Leap se verbruikersvriendelike webwerf teen net R42. Leopard’s Leap se Culinaria Pinot Noir/Chardonnay bevat ‘n allemintige 55% Pinot wat sorg vir ‘n wonderlike spesery ondertoon om die vrugtige geure van granaat en peer aan te vul.
Dis beskikbaar aanlyn teen R75, ‘n uitstekende prys vir ‘n lieflike wyn met goeie struktuur en ‘n perfekte vrugte/suur balans. Probeer altwee, jy sal nie spyt wees nie.
Los 'n Boodskap