Kyk as ’n resep so honderd jaar of wat al die rondtes doen, is dit gewoonlik met goeie rede. Dis lekker.
Nuwe resepte optower is vet pret, maar mens gooi nie die baba met die badwater uit nie. Ou resepte hóórt in elke moderne kok se repertoire. Resepte soos Crepes Suzette, Beef Wellington, Dauphinoise en… Caesar-slaai – daai hemelse kombinasie van blaarslaai, croutons, ansjovis, knoffel, olyfolie, suurlemoen, eiergeel en sommer hope parmesaan-kaas.
Ene Caesar Cardini, ’n Italiaanse immigrant in Amerika, het kwansuis op 4 Julie 1924 daarmee vorendag gekom toe sy restaurant besig en sy yskaste leeg was. Ek ken die gevoel.
In vervloë dae was dit sommer baie grênd om hierdie dis in ’n houtbak by die tafel op te tower. ‘Dinner and a show.’ Genadiglik het tye aanbeweeg. Ek maak die slaaisous vooraf sodat die bestanddele lekker gesellig kan raak. Dan’s dit net aanmekaarslaan hier op die einde. En soos ek nou maar is, loop neuk ek met perfeksie en trek vir hom ’n ander baadjie aan – ek sit hoenderborsies by en vervang die croutons met snye ciabatta wat ek rooster tot hulle brosbruin is. En ek doen dit alles op die braai.
Al wat jy nodig het is…
4 ansjovis filette
1 groot knoffelhuisie, fyngekap
⅛t seesout (ek verkies Maldon)
geel van een ekstragroot kamertemperatuur eier (die eiergeel word nie gekook nie, so gebruik ‘n top-kwaliteit ‘free range’ eier van ‘n betroubare winkel soos Woolworths)
¼t Dijon-mosterd
2E goeie olyfolie
3E sonneblomolie
2E vars suurlemoensap
4 opgehoopte eetlepels gerasperde parmesaan of pecorino kaas (let wel: moenie daardie goor sakkies verpoeierde parmesaan gebruik nie, koop ‘n blok kaas en rasper self, dis rêrig belangrik)
varsgemaalde growwe swartpeper
4 hoenderborsies
2E Worcestershire- sous
3E olyfolie
ciabatta, in 2cm snye gesny
olyfolie, om die brood te verf
1 heel knoffelhuisie
slaaiblare, vir bedien
vars parmesaan of pecorino, vir bedien
Om die Caesar slaaisous te maak: Verpulp die ansjovis, sout en knoffelhuisie saam – die plat kant van ’n meslem op ’n broodbord werk piekfyn hiervoor. Plaas in ’n diep bak. Voeg die eiergeel en mosterd by. Voeg die olyfolie druppel vir druppel by terwyl jy aanhoudend klits (ek gebruik my elektriese handmenger). Doen dieselfde met die sonneblomolie. Roer die suurlemoen en parmesaan by en gee hom ’n paar stewige draaie swartpeper. Bedek en plaas in die yskas vir ten minste ’n uur.
Sny die borsies in die helfte met die lengte langs sodat jy twee platter borsies kry. Plaas tussen twee stukke kleefplastiek en slaan effe plat met ’n koekroller (dis nie noodsaaklik nie, maar dit help dat die hoender eweredig dik is en dus eweredig kook). Sit in ’n bakkie en gooi 2E Worcestershire-sous en 3E olyfolie oor. Bedek en plaas in die yskas vir ten minste ’n uur.
Braai die hoender oor warm kole, verwyder en sit eenkant. Gebruik ’n kwassie om die brood aan albei kante met olyfolie te klad. Plaas op die braai tot goudbruin aan beide kante. Vryf een kant van die sny liggies met die knoffelhuisie (net so een veetjie is genoeg).
Bedien met die hoender, slaai, suurlemoenskywe, Caesar-slaaisous en ekstra parmesaan sodat almal hulle eie perfekte braaibroodjie kan bou. (As jy nie hierdie resep op die braai wil doen nie, gebruik ‘n riffelpan.)
bedien
4
vooraf
20 min
braai
15 min
goed om te weet
Nog idees vir hierdie Caesar resep…
Om gewone Caesar-slaai te maak, volg hierdie resep maar laat die hoender uit en vervang die snye brood met croutons. Meng alles saam en bedien dadelik. Jy kan croutons maak deur blokkies brood in olyfolie te braai, of dit met olyfolie te besprinkel en in die oond te bak teen so 150 grade tot goudbruin. Verwyder en laat hulle afkoel.
As jy stysel vermy, verander hierdie in ‘n hoofmaal deur die brood uit te laat en te vervang met ‘n halwe avo. Of stapel ‘n gesonde handvol groen aspersies op die hoender.
lekker saam met
My keuse hierby is of ‘n Sauvignon Blanc of ‘n Chardonnay.
KWV se Classic Collection Chardonnay is uitstekende waarde vir geld.
Los 'n Boodskap