Koekies koop was nie ’n ding wat ek as kind geken het nie. Mens het gebak. Koop was vir lui huisvroue, slegte ma’s en dorpsmense – in ouma se oë almal ewe erg.
Sy’t nie klein begryp nie, my ouma. Suiker en meel is grootmaat gekoop by die koöperasie op Standerton en in 30-liter dromme gehou in die kas in die gang. Op ‘Bakdag’ was haar kombuis met sy 12-sitplek tafel ’n miernes – en die hele jaart gevul met die soet geur van vanielje, van sesuur die oggend tot laataand.
Ek’s nie veel van ’n koekie eet of bak mens nie (ek’s die winkel soort), maar hier in die winter so elfuur die oggend en weer vieruur die middag hunker ek na ’n koppie rooibos met ’n soete knabbelding daarby. Min kom vir my naby ’n behoorlike tuisgebakte soetkoekie en hy’s net behoorlik as hy hope naeltjiegeur het. Hierdie resep is nie die tradisionele soetkoekie nie, want hy het hawermout en klapper by. Jy rol ook nie die deeg uit nie, jy druk hom sommer plat met die hand. Puriste sal seker ’n probleem hê dat ek dit nou ’n soetkoekie noem, maar dis wat in ouma se boekie staan en sy’s nie meer daar om mee te stry nie. So daar het jy dit – outydse hawermout soetkoekies propvol kaneel en naeltjiegeur.
Al wat jy nodig het is…
5 koppies koekmeel
6t bakpoeier
1t sout
1½ koppies hawermout
1½ koppies gedroogde klapper
1E fyn kaneel
1t fyn naeltjies
3 koppies strooisuiker
1½ koppies botter, teen kamertemperatuur (gebruik Lurpak, Kerrygold of Woolies botter)
4 eiers
½ koppie melk
Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Voeg die hawermout, klapper, kaneel en naeltjies by. Verroom die botter en suiker. Voeg die eiers by die bottermengsel en meng goed. (Jy’t seker opgemerk ek’s effe puntenerig oor die botter wat ek gebruik. Vir my het baie van die ander soorte ’n effense galsterige ondertoon wat ek dadelik proe – en rêrig haat.)
Voeg die bottermengsel by die meel en meng. Jy kan jou lyf fênsie hou en dit met ’n lepel probeer doen, maar ek vind sommer met die hand werk beter. Voeg die melk by en meng deur. Laat die deeg vir 15 minute in die yskas rus. Rol eweredige klein balletjies deeg (een eetlepel deeg per balletjie) en plaas op ’n gesmeerde kleefvrye bakplaat. As jy vind die deeg kleef aan jou hande, doop eenvoudig jou hande in ’n bietjie meel. Druk die koekies effe plat met die palm van jou hand.
Gebruik die agterkant van ’n vurk om ’n mooi patroontjie bo-op die koekies te druk. Bak tot ligbruin teen 190 grade Celsius – dit vat 20-25 minute. Verwyder en laat afkoel. Soos hulle afkoel sal die koekies bros word. Bêre in ’n lugdigte houer. Hierdie resep maak 70 koekies – ek sê mos hulle’t nie gespeel 60 jaar terug nie! As jy minder wil maak, halveer eenvoudig die resep. (Sien GOED OM TE WEET hieronder vir my idee van ’n ware boere roomyswafel!)
Groete tot volgende keer
Lizet
maak
70
rus
15 min
bak
25 min
goed om te weet
My ‘boere’ roomyswafel
Druk die koekiedeeg effe platter as wat jy sal doen vir ‘n gewone koekie, sodat hy dunner en brosser uitkom.
Skep ‘n lekker lepelvol van my outydse Idealmelk roomys op ‘n koekie, sit nog een bo-op, druk hom plat en siedaar. Jy gaan waarskynlik ‘n servet nodig hê…
lekker saam met
As kleuter was rooibos vir my soos moedersmelk. Soet, wit en in my bababottel en ek was gelukkig. Ek drink dit deesdae uit ‘n koppie, wat seker ‘n goeie ding is, en ek drink dit sonder melk, maar ek vrek steeds daaroor. Toeka se tyd was daar net gewone rooibos, en my gunsteling die een met die ossewa op die prentjie. Deesdae is daar allerhande gegeurdes. Ek dink rooibos met vanielje sal perfek hierby pas.
Carmién maak ‘n hele reeks heerlike gegeurde rooibos, insluitend ‘n vanielje een.
Los 'n Boodskap