Die Annandale pad naby Stellenbosch kronkel rustig verby verskeie wynplase. Daar’s vele verleidings langs die pad en jy kan gewis by hulle almal inloer. Maar moenie te lank talm nie, ry vir Annandale tot daar waar hy doodloop want aan sy einde wag daar ’n juweel van die Boland – Haskell wynlandgoed. Ek het hulle onlangs saam met ander wynmedia besoek ter viering van hulle 20ste verjaarsdag.

Die plaas was oorspronklik bekend as Dombeya. In 2002 koop die Amerikaanse magnaat, Preston Haskell, die eiendom en verander die naam na Haskell Vineyards. Vir die laaste twintig jaar woeker die span by Haskell om die landgoed se reputasie as die tuiste van premium wyne stewig te vestig.

Die fokus by Haskell is om wyne te produseer wat die terroir reflekteer. Om dit te doen het hulle teruggekeer na die mees basiese vorm van wingerdbou – hulle sê hulle boer met die grond en nie die druiwe nie. So organies as moontlik wil hulle ook wees. Die resultate van hierdie fokus spreek vanself want Haskell staan voor in die koor as dit by toekennings kom.

scroll-main

scroll-main

Daar is menige wynproe opsies by Haskell wat nie net wyne onder hulle Haskell etiket insluit nie, maar ook hulle Dombeya reeks. Proe net wyn, kies uit ’n verskeidenheid klein peuselbordjies daarby of bestel ’n kaas en charcuterie bord. Soos meeste wynplase deesdae moet mens betaal vir die wynproe, maar anders as soveel ander is die wynproe gratis as jy ses bottels wyn koop. Wel gedaan ouens, dis mos nou ordentlik!

As die gier jou onverwags tref kan jy net die pad vat en opdaag by Haskell, jy sal met ope arms ontvang word. Maar as jy ’n private proe ondervinding wil hê plus ’n toer van die kelder moet jy liefs vooraf bel en ’n afspraak maak.

Maar moenie net by Haskell inloer vir hulle wyn nie. Geen besoek is volmaak as jy nie ook aansit by hulle bekende Longtable restaurant nie. Sit buite op hulle terras met sy panoramiese uitsigte oor die wingerde en berge of sit binne as die weer goor is.

scroll-main

scroll-main

Op die spyskaart? Kleiner bordjies bedoel vir deel en geniet. Dink bokmelk-kaas in ’n panko-krummel korsie met piekels. Of parmesaan risotto met ertjies, basilie-olie en amandels. Lus vir ietsie stewiger? Wat van bros vark met blomkool puree en lemoen jus. Of kies die stadig geroosterde roosmaryn lam met truffel kapokaartappels. Vir die soet tand is daar verleidings soos vanielje panna cotta of suurlemoentert met bessie sorbet. Natuurlik is daar ’n Haskell of Dombeya wyn perfek vir elke dis en hulle sal met graagte aanbevelings maak.

As luilekker buite op die gras uithaak meer jou styl is, besoek hulle vir hulle bekende pizza-op-die-gras aanbod. Dis beskikbaar vanaf November tot Maart.

Ek beveel aan dat jy bespreek. Bel hulle eenvoudig op 021 881 3895 of 060 997 9399.

scroll-main

Haskell se wynmaker, Rudolph Steenkamp. Foto’s verskaf deur Haskell.

scroll-main

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ’n resensie nie, maar eerder ’n persoonlike aanbeveling

scroll-main

Deel hierdie artikel

Ook beskikbaar in: English