In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien… Ek dink dis hoe die gesegde lui, en die laaste twee maande of wat swéét ek emmersvol. Moenie my verkeerd verstaan nie, dis nie dat ek kla nie, ‘after all’ ledigheid is die oorkussing van die duiwel. Maar na té veel weke van begin werk hier sesuur in die oggend (soms vieruur as ek vroeg wakker word en net daar lê en ‘stress’) moet mens darem ’n blaaskans hê.
Soos laas Sondag, toe ek die N1 noord uit Kaapstad vat vir ’n piekniek op die Hartenberg wynlandgoed buite Stellenbosch. Hartenberg staan al vir ’n paar eeue lank – 322 jaar, as presies wees vir jou belangrik is. ’n Piekniek op ’n wynlandgoed is nie ongewoon in hierdie geweste nie. Maar, soos seker maar met alles, kry jy haaglik, OK-erig en wonderlik. Met al die swetery om hom vol te maak, is ek bra traag om my beursie uit te haal vir ’n goor ondervinding.
’n Hartenberg piekniek stel nie teleur nie. Tafels gedek met vrolike rooi lap in die skadu van stokoue akkerboom reuse – ver genoeg van mekaar af sodat ek kan skinder sonder dat ander my kan hoor. Piekniekmatte en massiewe kussings langs elke tafel vir skuinslê hier drie uur se kant. Myle groen gras vir kinders om te baljaar sonder om ander te pla… Hartenberg verstaan eenvoudig wat ek wil hê.
Hartenberg piekniek: Speel, slaap, lees, kuier en eet, eet, eet. Perfek.
En dan’s daar die kos. ’n Mandjie vir twee kos R175 per persoon en jy kry ’n bottel Hartenberg wyn op die koop toe. Dis seker nie die goedkoopste piekniek nie, maar dis uitstekende waarde want jy kry tonne en dis heerlik. Snoek-patee; bocconcini, tamatie en basiliekruid-slaai; aartappel-en-groenboonslaai; kase, wonderlike vleise, uie-en-kaas tertjies, ’n terrien, brode; ’n paar ander goed én poeding. Dis groot eet hierdie. Snaakse kase en vleise is natuurlik nie ’n kind se ding nie. Hartenberg weet van, daarom kry die kleingoed ’n piekniek wat hulle sal behaag vir R65.
Daar’s nie tonne plek nie, en dis deel van die sjarme van Hartenberg, so bespreek vroegtydig.
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.
Los 'n Boodskap