Groenboonbredie – dis hartskos, onthoukos, sielskos en perfek vir koue wintersaande. Nes ouma s’n, geur ek myne met neutmuskaat en daai moet-hê boerekos bestanddeel, kruienaeltjies.
Maar die smaak is dieper en ryker as vele ander resepte want in plaas van olie gebruik ek varkvet om die vleis bruin te braai. Wat anders is anders? Ek hou my bone heel want dis vir my mooier, maar jy kan hulle fyn sny soos ouma gemaak het. Anders as sy, kook ek hulle ook nie grysdood nie, maar gooi hulle eerder nader aan die einde by. En ek gee die lot ’n vrisse varse skoot suurlemoen net voor ek opskep. Kos van toeka, vir vandag.
Al wat jy nodig het is…
2-3E varkvet
900g skaap kneukel (of ’n mengsel van kneukel, skenkel en nek)
1½ koppies fyngekapte ui
2 fyngekapte knoffelhuisies
2E koekmeel
1 skaapaftreksel blokkie (ek het Knorrox ‘mutton flavour’ gebruik)
½t neutmuskaat
¼t swartpeper
3 heel kruienaeltjies
2 koppies water
4 groot aartappels, geskil en in kwarte gesny
pakkie groenbone, gesny of heel
½ suurlemoen
sout na smaak
Braai die lamsvleis in die varkvet tot alkant goed bruin. Verwyder die vleis. Gooi die uie in dieselfde pan en braai tot goed gekarameliseer. Sit nog ’n sweempie vet by as die pan te droog raak. Voeg die knoffel by en braai vir ’n minuut of wat. Voeg die meel by en roer tot die meel in die uie verdwyn. Voeg die vleis terug in die pan saam met enige vloeistof wat uitgekom het gedurende die rus. Voeg die res van die bestanddele by (behalwe die bone en suurlemoen), bedek en kook oor ’n baie lae hitte tot die vleis super sag is – so twee ure.
Loer af en toe en voeg klein bietjie water by indien nodig. Dit behoort nie nodig te wees as jou hitte laag genoeg is nie. As die vleis sag is, voeg die bone by en kook tot hulle is soos jy dit verkies. Voeg die suurlemoen by en proe vir sout. Bedien met witrys. Dit en natuurlik Mev Ball se blatjang.
bedien
4-5
vooraf
20 min
kook
2-3 ure
goed om te weet
Hoe gemaak met varkvet
Varkvet is vir my ‘n noodsaaklike bestanddeel. Ek gebruik dit dikwels in bredies en selfs ryk ragus vir pasta. Varkvet word woes warm, wat beteken dis perfek vir vleis verbruin. As jy regtig moet, vervang die varkvet in hierdie resep met kookolie. En onthou, verbruin altyd eers jou vleis aan die begin van enige bredie kook. Gooi jy die vleis rou in, is die kleur grys en die smaak ewe vaal.
Varkvet koop en stoor
So paar jaar gelede kon jy nog in enige supermark Escort varkvet (lard) kry. Lyk my hulle’s nou neusoptrekkerig daarvoor want ek sukkel deesdae. Hoe gemaak? Spesialis delis en slagters, veral ouens wat op vark fokus, sal kan help. (As jy in die Kaap bly, vat die pad Joostenberg toe, jy sal nie spyt wees nie!) Ek stoor my varkvet in die vrieskas, dit hou vir maande. As ek nodig het, gebruik ek eenvoudig ‘n stewige lepel om van die gevriesde vet uit te dolwe.
lekker saam met
Hierdie groenboonbredie is okkasiekos, Sondagmiddagkos as daar ’n doop of verjaarsdag in die familie is. En so okkasie verdien ’n pronkwyn. My keuse hierby is Groote Post se 2014 Merlot, wenner van die Beste Merlot Trofee in die 2016 Old Mutual wynskou. Die wingerde wat hierdie druiwe gelewer het is 14-15 jaar oud. As jy min van wyn weet, weet dit: ouer is beter.
Die wyn is verouder in 300L Franse eikehoutvate waarvan 30% nuut was, 40% tweede vul en 30% derde vul. Dis nie ongewoon vir wynsnobs om sarkastiese dinge oor Merlot kwyt te raak nie. Natuurlik stem nóg ek nóg Merlot saam. Met die 2014 het Groote Post se wynmaker, Lukas Wentzel, ’n ware skouperd gelewer.
Op die neus is daar hope ryk bessie en pruim asook ’n titsel ment. Op die tong is daar lustige swartbessie en seder. Die kleinhandel prys is hier by die R128. So bedien hierdie knaap in ouma se beste kristal.
Heerlike eenvoud!
Ek het 1/2 van die groenbone saam die aartappels ingegooi en wit peper op die einde bygesit.
Die aartappels smelt letterlik weg om ‘n heerliek dikker sous te vorm. My gereg is ook vir die laaste 1.5ure in ‘n ‘Wonderbag’ gewees om rustig klaar te kook.
Wens ek was daar om dit te proe. :)