Vra my oor my top-5 gunsteling maaltye ooit en ek dink overmydelik aan my middagete op ’n piepklein Griekse eiland in die middel van nerens. Ons het anker uitgegooi en ’n paar meter gedrentel na ’n restaurant met net drie tafels. Terwyl ons aan yskoue Griekse witwyn teug, hou ons ’n seuntjie dop wat vis vang, sommer net daar langs ons. ’n Halfuur later lê ons weg aan sy vangs.

Die varsste vis denkbaar, eenvoudig voorberei – net in meel gedoop en in olyfolie gebraai. By dit ’n properse Griekse slaai (g’n slaaiblare in sig nie!), tzatziki en pita. Niks meer was nodig nie. Daai ete is twee dekades later steeds in my kop. En dis die ding van Mediterreense kos – dis lekker, maar eintlik vreeslik eenvoudig. Soos hierdie Griekse suurlemoen-hoender – parmantige knoffel, intense oreganum, goeie olyfolie en die vars sitrusbyt van suurlemoen. Wat meer kan jy vra? Behalwe ’n yskoue glas kraakvars witwyn natuurlik!

Al wat jy vir hierdie Griekse suurlemoen-hoender nodig het is…

4 hoender agterkwarte

droë oreganum

goeie olyfolie

seesout vlokkies

varsgemaalde swartpeper

2 vet knoffeltone

8E gesoute botter

4E vars suurlemoensap

4 skyfies suurlemoen

Gebruik kombuispapier om die hoenderstukke droog te klad. Meng twee eetlepels botter met twee teelepels oreganum. Gebruik jou vingers om die hoendervel versigtig te lig en druk die gegeurde botter onder die vel in. Verf die hoender met olyfolie. Bestrooi met ’n knippie of twee oreganum, strooi seesout vlokkies oor en gee dit ’n paar draaie swartpeper. Sit die hoenderstukke in ’n vlak roosterbak. Gebruik die plat kant van ’n groot sjefmes om die knoffeltone plat te slaan. Sit die knoffel net so skilletjie en al, die orige botter, suurlemoensap en suurlemoenskyfies in die roosterbak. Plaas in ’n 180 grade Celsius tot goudbruin en gaar.

’n Bros baguette of pita daarby om die baksousie mee op te suig, ’n Griekse slaai, ’n glas witwyn en ek’s gelukkig.

bedien

4

vooraf

10 min

bak

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English