Ses weke se winter is onder die knie, nog net ses weke se bibber oor en dis Lentedag mense! Ek’s nie my beste self in die winter nie. Flennie pajamas, sokkies in die bed en ‘spencers’ (soos ouma hulle genoem het) is eenvoudig nie seksie nie. Maar winter het tog sy belonings. Soos souskluitjies, hoenderpastei en melkkos. En dan’s daar glühwein – verkieslik voor die kaggel. Dít maak my so bly, ek swaai skoon stert.
Ek het net drie reëls as dit by glühwein kom: 1) Gee die spesery hope tyd om te trek; 2) Moet nooit, ooit die wyn laat kook nie en; 3) Gebruik goeie wyn. Nie 4-ster Platter wyn nie, maar tog wyn wat lekker is nog voor jy dinge bygooi. Want kyk al die spesery in die wêreld verbloem nie gemors wyn nie. Daar is tonne sakpas wynopsies vir glühwein maak. Een van my immergroen gunstelinge is Perdeberg se Soft Smooth Red. Woolies se Juicy Red is ook heel gaaf hiervoor. Wat jy ook al gebruik, maak glühwein hierdie winter. Daar’s nog net ses weke oor!
Al wat jy nodig het is…
10 naeltjies
2 steranyssade
4 kardemomsade, oopgebreuk met die agterkant van ’n mes
3 lang stukke pypkaneel
½ koppie water
skil en sap van twee lemoene
¼ koppie suiker (as jy van dit baie soet hou, gooi nog by)
750ml bottel rooiwyn
Gooi al die bestanddele behalwe die wyn in ’n pot. Kook dit vir ’n goeie 5-10 minute. Draai dan die hitte op sy laagste en gooi die wyn by. Houe die knaap dop, hy moet vir 20 minute op die plaat wees sónder om te kook. My moet nie eens prut nie, net so liggies bewe op die oppervlak. Gooi die lot deur ’n siffie en bedien warm met kaneel en ’n skyfie lemoen of twee vir die mooi.
bedien
4-6
vooraf
5 min
kook
25 min
Los 'n Boodskap