Ek’s effe kens is oor pienk. Pienk rokke, pienk lipstif en natuurlik… pienk wyn. Met of sonder borrels, ek’s mal daaroor. Dis seker verstaanbaar want ek het toevallig ook ’n ding vir enigiets Frans. En die Franse kén van pienk wyn.

Toe ’n parmantige botteltjie Roodeberg rosé van KWV hom dus die ander dag op my voorstoep kom tuismaak, nooi ek hom sommer dadelik in. Die ding met ’n rosé, is dat ek niks van hom wil weet as hy soet is nie. Ek sê nie dis verkeerd nie, ek wil nou nie oordeel nie, maar jy kan my nie genoeg betaal nie.

Die Roodeberg knaap is lieflik droog en vars en, tipies Suid-Afrikaans, vrygewig met die vrugte ja, maar dis elegant ook – g’n niks Sparletta Raspberry hier nie. Ek skink sommer vinnig ’n tweede glas en besluit kook hiervoor moet ek… en die kos moet pienk wees. Vanselfsprekend.

Min pienk dinge is vir my lekkerder as gerookte salm (wel, miskien kreef, maar as jy nie self duik of ’n pêl het wat duik nie kan jy maar vergeet). So salm is dit toe en, omdat ek beursie bewus is, koop ek nie die fênsie een nie, maar gerookte salm ‘offcuts’. Hier’s hy – my salm-en-roomkaas tert. Perfek as ’n ligte middag- of aandete, perfek vir ’n fênsie teetafel.

Al wat jy nodig het is…

Vir die tertkors
200g koekmeel
120g koue botter, in klein blokkies gesny
¼t sout
3½-4E yswater

Vir die vulsel
250g roomkaas
250g crème frâiche
4 ekstragroot eiers
¼t growwe swartpeper
¼t sout (dis min sout, maar die salm is geneig om souterig te wees)
200g gerookte salm ‘offcuts’
1E gekapte dille
2E gekapte grasuie (chives)

Vir versiering
80g kwaliteit gerookte salm, in lang linte geskeur
mikroblare en groente

Om die tertkors te maak: Gooi die meel, sout en botter in jou voedselverwerker en pols tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk.  Voeg die water by en blits tot die deeg net, net begin vorm kry. Keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak en druk met die hande om ’n ronde bal te vorm. Gebruik ’n koekroller (liggies met meel gestrooi) om die deegbal 3mm dik uit te rol. Keer ’n groot bord op die deeg om en sny die oorskot deeg af sodat jy ’n perfekte deegsirkel het.

Sit deeg in ’n gesmeerde losbodempan. Prik die basis oraloor met ’n vurk. Bedek die deeg met foelie en gooi bakbone (rou rys werk net so goed) in die foelie. Bak teen 200 grade Celsius vir 25-30 minute. Verwyder die foelie en bakbone, prik die basis weer en bak vir nog 5-10 minute tot die kors bros, goudkleurig en deurgebak is. (WENK: Om te keer dat die kors pap raak as jy die nat vulsel ingooi, verf die kors liggies met eierwit voor die tweede baksessie. Dit vorm ’n beskermende lagie tussen die kors en die vulsel.) Verwyder en laat afkoel in die pan.

Om die vulsel te maak: Meng al die vulselbestandele en gooi in die tertkors. Bak teen 160 grade Celsius vir 45 minute, skakel die oond af (hou die deur toe) en hou die tert in die oond vir nog 45 minute. Die vulsel sal nog effe loperig wees, maar sal met die staan in die warm oond aanhou bak tot die vulsel geset is.

Bedien teen kamertemperatuur versier met stroke gerookte salm, mikroblare, mikrogroente en my komkommer-en-dille slaai (sien GOED OM TE WEET).

bedien

6-8

vooraf

20 min

kook

90 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Komkommer-en-dille slaai…

Gebruik ‘n groenteskiller om lang linte komkommer te maak. Meng twee eetlepels gekapte dille met twee eetlepels rys-asyn, ‘n knippie sout, ‘n skoot growwe swartpeper en ‘n teelepel suiker en gooi oor. Bedien dadelik.

lekker saam met

‘n Droeë rosé hierby is perfek. KWV se Roodeberg Rooi wat die eerste keer in 1949 gemaak is het ikoniese status in my oë – en nou is daar ‘n vulletjie in die stal in die vorm van hierdie Shiraz-dominante rosé.

Dis elegant, vars en droog met lieflike aarbei, framboos, roos, witperske en ‘n titsel spesery. Een van my gunsteling rosés hierdie somer.

KWV

scroll-main

Ook beskikbaar in: English