’n Snaakse ding gebeur elke jaar klokslag op 1 Maart met my. Dit mag miskien 27 grade buite wees, en ek mag miskien heel vroulik gloei (sweet is ’n lelike woord), maar skielik begin ek na pasteie, gebakte poedings en vla verlang.
Ek snuffel deur my kaste en loer skalks na my stewels, en ek wonder of ek die skoorsteen moet laat vee. Dis te vroeg, hopeloos te vroeg, maar ek kan dit nie help nie want ek’s eenvoudig dol oor herfs. So hoe gemaak met kos? Slaai is seker steeds die antwoord, maar na maande van blare en komkommer soek ek nou iets ryker, voller en meer bevredigend.
Toe loop kry ek inspirasie in Skadinawië. Ryk, gerookte makriel, wonderlike beet met sy diep aardse smaak, dille vir die vars, radyse vir die knars en suurroom. Dis Swede op ’n bord en perfek vir hierdie tussen-seisoene tyd van die jaar.
Al wat jy nodig het is…
gerookte makriel
bossie beet
radyse
dille
rooi ui
piepklein mikro blaartjies
suurroom
swartpeper
suurlemoen
Jy kan beet koop wat reeds gekook is, maar dis vir my belaglik duur. Ek koop ’n bossie vir ’n appel en ’n ui en kook hulle sommer vinnig in die skil.
Skil en sny die beet. Jy kan dit sny nes jy wil – lekker groot blokke of fyn en klein soos ek gemaak het met ’n mandolien. Sny die uie en radyse en vlok die vis. (WENK: Week dun gesnyde radyse in yswater vir ’n minuut of wat, dit gee hulle sommer hope ekstra knars!)
Rangskik die groente, dille (ek hou van baie) en gevlokte vis op ’n mooi bord. Druk suurlemoensap oor en gee hom ’n draai swartpeper. (Hy het nie olyfolie nodig nie want makriel is ’n olierige vis.) ’n Stewige skeppie suurroom daarby en hy’s reg.
Ek’s mal oor die intense smaak van ’n vogtige, ekstra donker rogbrood hierby (Die Oldenburger rogbrood wat ek by Checkers raakgeloop het was perfek.)
bedien
4
vooraf
15 min
kook
20 min
goed om te weet
Hoe gemaak met rooi beethande?
Ek ken heelwat mense wat die rubber-handskoene gryp as hulle net dink aan beet. Ek meen hulle’s heimlik gefrustreerde chirurge. Ek werk met beet net so met die kaal hande en skuur hulle eenvoudig met suurlemoen en seesout na die tyd. Die rooi verdwyn soos blits. Amper so vinnig as Merlot wanneer sy ‘n pil moet kry.
lekker saam met
n Olierige vis soos makriel hou van witwyn. Sauvignon Blanc is ‘n goeie keuse. Gerookte makriel is ook een van die min kosse wat baie gemaklik is met ‘n Chardonnay wat hout gesien het. My keuse is Asara se 2012 Vineyard Collection Chardonnay.
Hy’s volrond en romerig met net ‘n sweempie subtiele hout. Die kelderprys is R70.
Los 'n Boodskap