Nog net 7 slapies voor my gunsteling nasionale dag – Braaidag! Nou ek weet om dit Nasionale Braaidag te noem is soos om ’n seerkop stoetbul met ’n rooi doek te tart. Heelwat politici vererg hulle sommer gruwelik. Gelukkig steur ek my min aan wat hulle dink. Braai is my erfenis en op 24 September steek ek die vure aan.

En as jy nou ’n vuur gaan maak, kan jy net sowel meer as vleis op hom gooi. Vir my Braaidag vieringe begin ek my feesmaal met gebraaide murgpampoentjie-slaai. Ek sny hulle dun, verf hulle mildelik met olyfolie en gooi hulle op die vuur. As hulle soos ’n streepkat begin lyk is hulle reg vir ’n goeie skoot suurlemoen vir die vars. By dit gooi ek rissie vir die byt en ment vir die koel. En sommer feta-kaas en kekerertjies ook. Ek bedien dit met dik dille-tzatziki, pita brode wat ek op die vuur skrikmaak, en meer as een glas yskoue witwyn.

Al wat jy nodig het is…

3E goeie olyfolie
1½E suurlemoensap
½t knoffel, baie fyngekap
stewige knip sout
stewige knip growwe swartpeper
10 groot murgpampoentjies
1 blik kekerertjies, afgespoel en gedreineer
groot handvol mentblare
handvol Italiaanse pietersielie
halwe rooi rissie, ontpit en in baie dun repies gesny
100g feta, grof gekrummel
skil van ‘n halwe suurlemoen, in baie fyn repies gesny

Om die slaaisous te maak, meng die olyfolie, knoffel, suurlemoen en sout en peper na smaak en sit eenkant vir ten minste ’n uur – hoe langer hy staan, hoe beter is hy.

Sny die murgpampoentjies met die lengte langs in skywe 2-3mm dik. (Ek hou die boonste punt van die murgpampoentjie aan want dit maak ’n fraaie blommetjiepatroon as jy dit sny.) Borsel die pampoentjies met olyfolie en sit op die braai. As hulle mooi bruin strepe het, draai om en braai aan die ander kant. As hulle alkant mooi gestreep en sag is, is hulle reg vir die bord. Voeg dit by die kekerertjies en gooi die slaaisous oor. Laat staan vir ten minste ’n halfuur. Voeg die res van die bestanddele by net voor jy dit bedien. ’n Bord goeie groen olywe (die een van Woolies is ‘deevine’), baba tamaties steeds op hulle takkies vir die mooi (Woolies en Pick ’n Pay hou dit aan), dille-tzatziki, pita wat ek met olyfolie verf en op die braai rooster en jy’t die perfekte tapas-styl knabbelding.

Nota: As jy nie hierdie slaai op die braai wil maak nie, gebruik ’n riffelpan op die stoof. Dit werk net so goed.

bedien

6-8

vooraf

15 min

rus

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog ‘n knabbelding vir die braai…

My soetrissies met ansjovis (klik hier) is nog ‘n perfekte al fresco happie vir vele. Volg my resep nes hy is, maar gooi die soetrissies op die braai in plaas van in die oond. Ekstra rokerige lekkerte.

lekker saam met

Dis lentetyd, dis braaityd, dis tyd vir Chenin! Stellenrust se 2014 Chenin Blanc het onlangs in die eerste Standard Bank Chenin Blanc kompetisie stof in die oë van vele duurder Chenins geskop en in die top tien gekom. Ek’s mal oor Chenin wat ‘n sweempie hout gesien het. 20% van Stellenrust se Chenin word in Franse hout gefermenteer, net genoeg om hom interessant te maak.

Beste van als? Dit het ‘n kelderprys van net R44! Nou praat jy mos.

Stellenrus

scroll-main

Ook beskikbaar in: English