Franse roosterbrood was ’n kindertyd gunsteling vir ontbyt, waarskynlik omdat dit omtrent die enigste ding was wat ek as 5-jarige kon kook. Dit was so basies as kan kom, net eier geklits met bietjie melk en gewone sagte wit goewerment brood. All Gold se tamatiesous daarby was natuurlik ’n móét.
All Gold is steeds die enigste tamatiesous waaraan ek mond sal sit en dié doen ek nie dikwels nie. My smaak het effe meer gesofistikeerd geraak met die jare. Sommige van my vriende noem dit sommer fiemies. Wat jy dit ook al noem, die gevolg van my kieskeurigheid is dat ek bitter selde oortreffende trap tipe woorde gebruik as ek oor resepte praat. Hierdie Franse roosterbrood is ’n uitsondering. Sjoe. Mense, dis lekker verby. Sjokolade, lemoen, kaneel… Hoe kan dit nou dan anders? Al wat ek hierby vra is ’n sterk koppie swart koffie, ’n stil sonhoekie, die kat op my skoot en my Sondag koerant. As jy net één van my resepte probeer, maak dit hierdie een.
Al wat jy nodig het is…
2 eiers
½ koppie melk
2E room, opsioneel (moenie spesiaal room loop koop nie, sit dit net in as jy toevallig het)
¼t kaneel
knippie sout
3t strooisuiker
skil van een lemoen, fyn gerasper
4 snye brioche of kitke brood
Nutella sjokoladesmeer
groot klont botter – so twee eetlepels
Klits die eiers, melk, room, kaneel, sout, strooisuiker en lemoenskil saam. Smeer twee snye brood ongeskik dik met Nutella. Bedek met die orige twee snye om ’n toebroodjie te vorm. Gooi die eiermengsel in ’n platterige bak en week die toebroodjies daarin vir ’n goeie minuut. Draai versigtig om sodat die ander kant ook kan week – meeste van die mengsel sal opgesuig word. Smelt die botter in ’n kleefvrye pan en braai die broodjies oor medium hitte tot goudbruin albei kante. Bedien dadelik terwyl warm. As jy ekstra fênsie voel, sif bietjie versiersuiker oor vir die mooi.
bedien
2
vooraf
5 min
kook
5 min
I love French toast and this I am going to try. It sounds like manna from heaven. Thank you.