Ek’t ’n bloutjie geloop hierdie week, en dit nogal met ’n ‘hot cross bun’. Die taalpuriste noem dit seker ’n Paasbolletjie. Wie weet. In my huis is hulle sommer net ‘hot cross buns’.
Maandagoggend douvoordag sit ek oor ’n koppie koffie en so bolletjie en tob oor my resep vir hierdie week. Ek’t eiers in die huis. Ek het altyd, want mens kan ’n hele peloton troepe in ’n oogwink voer met net ’n paar eiers. En ek het room en botter. Dis verkeerd, ek weet, maar ek’s effe Frans in die opsig – als is beter met ’n skeppie room en ’n klontjie botter. Toe dog ek eiers, room, melk, ‘hot cross buns’… Kom ek gooi die lot saam en bak hom in die oond – ligte, donsige poeding veruklikheid. Wat kan dan nou verkeerd loop?
Skynbaar heelwat. Ek sit nog so lustig en knaag aan die Paasbolletjie toe daar skielik ’n harde knars is, gevolg deur skietende pyn. ’n Steentjie? In ’n Woolworths ‘hot cross bun? Seker tog nie. Ek vlieg badkamer toe, loop staan voor die spieël en rek my mond soos ’n luislang wat ’n boerboel sluk. My oë bevestig wat my tong my reeds vertel het. Ek moet die tandarts bel. Ek gaan nou nie te veel uitwei oor wat volgende gebeur het nie. Dit laat my nie goed lyk nie. Kom ons sê maar net dat die aanskoue van ’n tandarts se stoel my soos blits in ’n vierjarige verander. ’n Inspuiting, ’n geboor (my gunsteling), veertig minute en R800 later spog ek met ’n spinternuwe vulsel in my tweede laaste kiestand, regs onder. Oppad terug kantoor toe stop ek om joghurt te kry, want dis al wat ek vir ’n paar uur kan eet. En net om te wys ek’s nie die soort wat ’n wrok in my hart dra nie, loop koop ek dit by Woolies…
Vanselfsprekend bietjie sku vir ‘hot cross buns’ verander ek toe maar wat ek kook. Hier’s hy: Oondgebakte Franse roosterbrood met hope parmesaan-kaas en geroosterde tamaties. Dis perfek as ontbyt vir hordes, en as ligte middag- of aandete met ’n groen slaai.
Al wat jy nodig het is…
1 ciabatta brood
4 ekstragroot eiers
1 koppie melk
4E room (opsioneel)
1 koppie gerasperde kwaliteit parmesaan-kaas
sout
growwe swartpeper
knippie rooipeper
houertjie kersietamaties
1E olyfolie
Sny die brood en rangskik snye in ’n oondvaste bak. Strooi twee derdes van die kaas tussen die snye. Klits die eiers, melk, room, ’n stewige knip sout (so kwart teelepel) en ’n gesonde draai swartpeper saam. Gooi oor die brood. Bedek met die orige kaas en sprinkel ’n knippie of twee rooipeper oor. Bak teen 200 grade Celsius tot goudbruin en deurgraar (m.a.w. geen loperige mengsel nie – dit vat so 15 minute). Sit die roosterelement aan vir die laaste minuut of wat. ’n Goudbruin kors buite en kaserige soufflé tekstuur binne, wat kan dan nou beter?
Gooi die olyfolie oor die tamaties en bak terselfdertyd in ’n vlak roosterpan. Bedien dadelik.
bedien
4-6
vooraf
10 min
kook
15 min
goed om te weet
Nog idees
Kap spek fyn, braai en skep dit tussen die snye voor jy die eiermengsel oorgooi. Jy kan ook sprietuie of grasuie fynkap en oorstrooi net voor jy dit bedien.
lekker saam met
Ek sal nou nie sê wyn is ‘n blink idee vir ontbyt nie, maar as jy hierdie as ligte aandete bedien kan jy verseker ‘n bottel oopmaak. Enige ding met eiers en room sê vir my Chardonnay. Ek vind Chardonnay ‘n effe bleeksiel wyn as hy nie hout gesien het nie. Maar jy wil nou nie voel jy kou aan ‘n akkertak nie.
KWV se Classic Collection Chardonnay het net genoeg hout om hom interessant te maak. Lieflike sitrusgeure, hope vrugte op die tong en kraakvars. Teen net R42 aanlyn is dit ‘n baie skaflike ligte elke-dag Chardonnay wat nie ‘n gat in jou broek gaan ruk nie.
Los 'n Boodskap