’n ‘Fool’ is ’n lekker ding. Engels natuurlik. Voor ons nou nasietwis ontketen, laat ek vinnig byvoeg ‘fool’ is ’n POEDING. Die oudste verwysing daarna wat ek kon kry strek al die pad terug na die veertiende eeu. Tradisioneel was dit appelliefie puree in vla ingevou. Deesdae deug so te sê enige vrugte en word geklopte soet room gebruik in plaas van die vla.
’n ‘Fool’ kan gesofistikeerd wees, soos die grootmens een wat ek onlangs vir Leopard’s Leap ontwikkel het met ’n hele bottel van hulle Chardonnay Pinot Noir en eksotiese kardamom en rooswater.
Of dit kan die vinnigste, maklikste weekaand poeding wees, soos hierdie een met framboos. Ek vervang meeste van die room met joghurt, beter vir die hart jy sien. Dis fluweel op die tong, dus het jy knars hierby nodig. As jy fluks voel, bedien dit saam met my lemoen-en-pistasieneut broskoekies. Of hou dinge maklik en maak sommer ’n pakkie Boudoir koekies hierby oop.
Al wat jy nodig het is…
2 koppies vars of bevrore (en ontvries) frambose
2 koppies volroom joghurt
1 koppie vars room
4 opgehoopte eetlepels strooisuiker
pak Boudoir koekies
Blits die frambose met twee opgehoopte eetlepels strooisuiker. (Jy kan dit daarna deur ’n sif druk, ek bodder nie.) Klop die room met die orige suiker tot styf en vou dan versigtig die joghurt daarby in. Skep die vrugte puree en roommengsel om die beurt in fraaie klein glasies en bedien met die Boudoir koekies.
bedien
6-8
vooraf
10 min
kook
0 min
Los 'n Boodskap