Slagdag op die plaas was ’n vreeslike gedoente. My ouma het nie gesukkel met vleis nie. Sy’t ’n kamer die grootte van ’n dubbel garage gehad met industriële vrieskaste waarin jy olifante kon pas, ’n vleissaag soos jy in slaghuise kry, hakke vir dinge hang en sement voortjies vir onaangename goed wegspuit – die lot. As kind het ek gedink dis normaal, almal het ’n slaghuis op die werf.
‘Fast forward’ ’n hele paar dekades later en ’n lekker stuk ‘steak’ is steeds ’n gunsteling bederf. Gooi hom net so in ’n baie warm pan met bietjie olyfolie, ’n skoot sout en growwe swartpeper en miskien ’n klontjie botter hier op die einde. Ordentlike vleis wil min gedoen hê.
Maar’s hier’s nou die ding. Ek dink ‘fillet’ het hulp nodig – omtrent soveel soos ek grimering nodig het na ’n aand wat onwys laat aangehou het. (Ek weet dis beeshaas, ek’s mal oor suiwer Afrikaans. Maar rêrig, wie sê nou “beeshaas”?)
Om interessant te wees, soek ‘fillet’ ’n blaardeeg kombersie, ’n vulsel, of ’n pikante sousie ding. Soos hierdie een – met room vir die ryk, suurlemoen vir die byt en hope mosterd sommer net virrie lekker. As jy oor stysel voel soos ek oor die tandarts, bedien dit met iets groen wat knars. Miskien aspersies. Miskien groenbone. Ek maak tjips daarby, want ek’t g’n niks dissipline as dit kom by kos nie. Maar om te wys ek’t darem ‘n klein bietjie ‘class’, sny ek hulle eweredig piepklein en krummel gebraaide roosmaryn oor.
Al wat jy nodig het is…
400g bees fillet (of 500g of 600g as jy gulsig is)
sout en growwe swart peper
3E olyfolie, vir braai
3E water
sap van ‘n halwe groot suurlemoen
6E vars room
1 hoogvol teelepel Dijon-mosterd
1 hoogvol teelepel korrel-mosterd (wholegrain)
mikro mosterdblare (opsioneel, Pick ’n Pay hou dit aan)
Verhit ’n dikbodem pan tot baie warm. Gooi die olie in die pan. Geur die vleis liggies met ’n knip of twee sout en growwe swartpeper. Seël die vleis alkant in die warm olie. Draai die hitte laer en braai tot die vleis na jou smaak gedoen is (ek dink hoe pienker, hoe beter). Onthou om die vleis te draai sodat dit alkant karameliseer. Verwyder vleis, sit op ’n bord, bedek met foelie om dit warm te hou en laat dit rus vir ’n paar minute.
Gooi die water en suurlemoensap in die warm pan en roer om die gekarameliseerde stukkies van die bodem los te maak. Voeg die room by, asook die mosterd. Proe vir peper en sout (hy sal beslis ’n stewige knip sout nodig hê). Voeg enige vloeistof wat uit die rustende vleis geloop het by die sous, roer deur en kook vir so 30 sekondes. Sit warm voor saam met die vleis. As jy die mosterdblaartjies gebruik, strooi hulle oor die sous net voor jy bedien.
bedien
2
vooraf
0 min
kook
20 min
goed om te weet
Nog roomsous idees…
- Laat die suurlemoen en mosterd uit en vervang dit met ‘n stewige skoot brandewyn en ‘n eetlepel groen peperkorrels.
- Braai knopiesampioene in botter tot gaar (of heel as hulle baie klein is, of in fyn skyfies gesny) en voeg dit my die suurlemoen-mosterd roomsous.
lekker saam met
Ek hou van rooi by ‘n ‘steak’. Cabernet Sauvignon, Shiraz of ‘n Bordeaux-vermenging is heel gaaf. Maar omdat die roomsous ‘n suurlemoen byt het, sal ‘n rooiwyn met meer suur beter werk. Probeer ‘n Sangiovese of ‘n Pinot Noir. Pinot Noir is ‘n temperamentele pop in die wingerd en dus ‘n duur kultivar – R350-R600 vir ‘n bottel is nie ongewoon nie.
Creation in die lieflike Hemel-en-Aarde vallei maak ‘n baie skaflike een met ‘n sakpas kelderprys van R182. Gewoonlik kies ek goedkoper wyne om aan te beveel, want ek’s mos bietjie goedkoop. Maar fillet met roomsous is okkasie kos, so haal maar uit en wys.
Los 'n Boodskap