Ek sien op die weer die res van die land dra reeds rok, maar hier in die Kaap is winter nog nie met ons klaar nie. Nie dat ek kla nie, ons het al die reën nodig wat ons kan kry. Maar ai, ek’s so lus vir sandale. Ek gee die ding nog twee weke kans en dan brand ek my Uggs – op die Weber, sodat ek nie per ongeluk die wêreld aan die brand steek nie. Intussen gaan ek droom van somer met ’n interessante fetaslaai en ’n bottel rosé.

Feta en waatlemoen is ’n somer wenkombinasie. Maar as die tyd vir sandale nog nie hier is nie, is waatlemoen definitief nie op die horison nie. Lemoene, dié is nog met ons, en hier aan die einde van die winter is dit of hulle op hulle soetste is. By die skywe oranje soet voeg ek vinkel, rooi ui, pikswart klein olywe en fyn blaartjie goetertjies. Maar die ster van die ‘show’ is die feta. Nie sommer enige feta nie – Woolworths se vatverouderde skaap en bokmelk feta. Mens. Die laaste keer wat ek sulke lekker feta geproe het was in Griekeland. Woolies voer hierdie knaap daarvanaf in, so g’n wonder ek’s in vervoering nie. Nou voor ek vies notas kry dat ek Suid-Afrikaans moet koop, laat ek vinnig sê hierdie is nie ’n feta vir elke dag nie. Dit ruk die sak effe, so dis bederfdag feta. Maar dis elke sent werd. Al waarvoor hierdie slaai vra is ’n rooiwynasyn vinaigrette. En natuurlik ’n yskoue glas goeie rosé.

3 lemoene

1 klein rooi ui, so fyn moontlik gesny

1 groot vinkelknol, so fyn moontlik gesny (ek gebruik ’n mandolien)

10 swart olywe (of meer as jy regtig hou van!)

mikro blaartjies

1 blok Woolworths vatverouderde skaap en bokmelk feta

4 radyse, so fyn moontlik gesny (ek het nie radyse in my foto gebruik nie, maar dis lieflik hierby)

rooiwynasyn vinaigrette (sien goed om te weet laer af vir hoe om die perfekte vinaigrette te maak)

Skil die lemoene. Moenie jou vingers gebruik nie, jy’s nie by ’n piekniek nie! Hou jou lyf effe sjef en gebruik ’n skerp messie sodat daar niks goor wit wys nie. Sny jou perfek geskilde lemoene in mediumdik skywe. Rangskik op ’n fraaie bord met die res van die bestanddele. Bedruip met ’n paar lepels vinaigrette en jy’s klaar. So eenvoudig, maar elegant. Soos eenvoudige dinge so dikwels is.

bedien

2

vooraf

15 min

kook

0 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Die geheim vir perfekte vinaigrette

Die goue reël vir vinaigrette maak is ’n 2:1 verhouding. Dis twee dele olyfolie op een deel suur – of dit nou rooiwynasyn, witwynasyn of suurlemoen is. ’n Gesonde knip sout en paar draaie peper, klits om die lot bymekaar te bring en jy’t ’n basiese vinaigrette in perfekte balans.

• Ek voeg graag ’n stewige lepel Dijon-mosterd by my vinaigrette en ek gebruik net Maille mosterd.

• Jy kan ook knoffel byvoeg, maar net klein bietjie, want rou knoffel skop soos ’n beduiwelde stoetbul. As jy knoffel gebruik, laat die vinaigrette vir ten minste ’n halfuur staan sodat die geur kan ontwikkel.

• Vir vinaigrette met ’n effe Oosterse klap (interessant op byvoorbeeld koolslaai sonder mayonnaise), voeg ek ’n druppel of twee sesamolie en ’n lepel of wat heuning by. As ek sê druppel bedoel ek dit letterlik want sesamolie is intens. Rasper ook ’n klein mespunt vars gemmer by. Proe en speel. Solank jou basis – ‘n 2:1 verhouding – reg is, is dit moeilik om verkeerd te gaan.

scroll

my wynkeuse hierby

My rosé keuse hierby is Kleinood se Tamboerskloof Katharien. Hierdie wyn het ’n hele paar jaar terug my oog die eerste keer gevang toe dit stof in die oë van ander pienk nommers geskop het in ’n nasionale rosé kompetisie.

Dis gemaak van 100% syrah (oftewel shiraz) druiwe wat drie keer gesorteer is om te verseker net die beste vrugte word gebruik. Dis dadelik gepars met geen skilkontak na die tyd nie. Die gevolg? Die pragtigste ligte salmpienk kleur. Die wyn het vier maande op die moer gelê voor dit gebottel is. Op die neus is daar primêre bessies te bespeur wat ontwikkel in waatlemoen, granaat en ’n titsel spesery. Op die tong is dit nie net verfrissend vrugtig nie, maar ook intens en kompleks met ’n lieflike lang einde.

Hierdie is nie ’n vrolike,vriendelike pienk nommer vir effe aangeklap raak in die son langs die swembad nie. Dis ’n ernstige rosé, ’n elegante wyn vir stadig drink saam met wonderlike kos.

Katharien

scroll-main

Ook beskikbaar in: English