Met die dat ek ’n ding vir enigiets Frans het, is dit seker nie verbasend dat ek ’n sagte plek in my hart het vir Franschhoek nie. My verhouding met hierdie fraaie Boland plek met sy Hugenoot bande strek jare terug. Ek wil nou nie uitwei oor hóéveel jare nie, want ek lieg lekker oor my ouderdom. Kom ons sê maar net ek onthou die hoofstraat met ’n koöperasie waar jy enigiets van Gouda-kaas tot 303-patrone kon kry. Vandag staan ’n Pick ’n Pay in sy plek. Ek dink nie hulle verkoop patrone nie.
Die pienk rondawel waar jy jou hare vir ’n appel en ui kon laat ‘perm’ is ook nie meer daar nie. Bitter min is dieselfde as toe. En tog is dit steeds een van my gunsteling kuierplekke. Kannie anders nie. Met heerlike snuffelwinkels, tonne restaurante, ’n mark langs die pragtige ou NG-Kerk elke naweek en natuurlik nabygeleë wynplase soos Anthonij Rupert Wyne, La Motte en Grande Provence, is Franschhoek ’n fees van ’n destinasie.
Franschhoek 10-16 Des 2014: Laatnag inkopies, blyplek afslag en meer.
En hierdie Desember, van die 10de to die 16de, raak dinge nog vroliker want Franschhoek vier fees en die wynplase, restaurante en winkels gaan uithang. Laatnag inkopies (loer in by Masquerade, die plek is my dood met al sy ‘Franse’ huisware), straatliggies, spesiale wynplaas en restaurant aanbiedinge en meer wag op jou. Heelwat blyplekke gaan ook afslag gee oor hierdie tyd – so loer hier vir meer en bespreek sommer nou.
waar
Die R45 sal jou daar kry
wanneer
10-16 Desember 2014
hoe laat
Vroegdag tot laataand
meer
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.
Los 'n Boodskap