Hoenderlewer-patee is een van daai dinge wat eenvoudig beter is as jy dit self maak. Ek was op die punt om een aanmekaar te slaan toe ek eendlewers van The Duck Farm by P&P gewaar. Net R10 meer as die hoender een? Perfek. Terug by die huis gebruik ek my gewone hoenderlewer-patee resep met hope tiemie en salie en ’n stewige sopie brandewyn. Maar in plaas van ’n botter lagie bo-op soos ek gewoonlik met die hoenderlewer-patee maak, gee ek hierdie eendlewer-patee ’n bosbessie-jellie lagie. Die effe suur-soet smaak is die perfekte pasmaat vir die ryk eendlewer. Bedien hierdie eendlewer-patee met melba brosbrood.

Al wat jy nodig het is…

500g eendlewer (of 250g eendlewer en 250g hoederlewer)
1 koppie uie, fyngekap
2E botter
1E olyfolie
3t knoffel
2 hoogvol teelepels tiemie
1 hoogvol teelepel fyngekapte vars salie
5E brandewyn
1t sout
½t growwe swartpeper
4E water
4E vars room
klein bottel (150g) bosbessie-jellie (cranberry jelly)
1E suurlemoensap
1t gelatien
1 groot ciabatta

Kook die uie oor baie lae hitte in een lepel botter en een lepel olyfolie tot sag. Voeg die knoffel en kruie by en braai vir ’n paar sekondes. Draai die hitte op tot hoog, voeg nog een lepel botter by en braai die lewers vir ’n minuut of wat tot hulle goudbruin is. Gooi die brandewyn en water by, asook die sout en peper, bedek en kook vir ’n paar minute tot die lewer net deurgaar is. Jy wil hulle nog effe pienk aan die binnekant hê. Sit die lot in ’n voedselverwerker saam met die room en blits tot glad en romerig. As dit te dik en droog is, voeg nog ’n lepel of wat room by. As jy die patee fluweelglad wil hê, stoot dit deur ’n sif. Of gebruik dit nes dit is. Skep die patee in bakkies, bedek die oppervlak met kleefplastiek en laat afkoel.

Smelt die jellie saam met die suurlemoensap. Gooi die gelatien in ’n bakkie saam met 3 eetlepels water en roer. Plaas die gelatien bak oor ’n pan warm water tot dit opgelos is. Roer die gelatien by die warm bosbessie-jellie en gooi oor die koue patee. Plaas in die yskas tot koud en ferm. Hierdie patee verbeter soos hy staan, so maak dit ’n dag of twee voor jy beplan om dit te bedien.

Om die melba te maak, sny die brood baie dun. Brood wat so paar dae oud is werk beter. As jy met vars brood werk, vries dit eers. Dan’s dit makliker om dun te sny. Pak die snye op ’n bakplaat en bak teen 100 grade Celsius tot droog en bros. Dit vat so 10-15 minute. Bewaar in ’n lugdigte houer tot jy dit gebruik.

bedien

8-10

vooraf

15 min

kook

15 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Hoenderlewer-patee

Om hierdie patee in hoenderlewer-patee te verander, vervang eenvoudig die eendlewer met 500g hoenderlewer en volg die resep hierbo. Vervang ook die bosbessie-jellie met botter gegeur met lourier. Smelt eenvoudig ’n kwart koppie botter oor lae hitte met een vars lourierblaar.

Verwyder van die hitte sodra dit begin borrel en laat dit in die warm pan staan vir ’n minuut of wat om die lourierblaar kans te gee om die botter te geur. Gooi die botter bo-oor die patee en sit in die yskas tot gestol.

scroll

lekker saam met

Hierdie bottel lê nou al vir ‘n hele paar maande onder in my koelste kas onder ‘n stapel wit handdoeke, wagtend op ‘n dis wat spesiaal genoeg is om die oopmaak te regverdig. Ek dink eendlewer-patee is goed genoeg, toe loop haal ek my Thelema Mountain Vineyards 2012 Sutherland Chardonnay uit daai kas. Op die neus het hierdie wyn wonderlike marmelade, broderige gis en wonderlike hout wat dit ondersteun in plaas van oorweldig. ‘n Droë seisoen in die koel-klimaat Elgin streek het die perfekte toestande geskep vir die maak van ‘n elegante wyn met wonderlike balans. Dis ‘n komplekse fees op die tong met vars suur in perfekte balans met die vrugtigheid. Soos mens verwag van ‘n goeie wyn het dit ‘n lang einde wat by jou bly lank na jy gesluk het.

Maar moenie my woord hiervoor vat nie. Die Sutherland Chardonnay 2012 het met goud weggestap by hierdie jaar se International Wine Challenge (IWC). En asof dit nie genoeg is nie het dit ook die prys vir beste Suid-Afrikaanse Chardonnay by dieselfde kompetisie gewen. Die IWC, nou in sy 32ste jaar, is een van die wêreld se mees gerespekteerde wynkompetisies met top wynkenners wat elke wyn telkemale blind proe.

Wat kos al hierdie blink sterretjies? Dis aanlyn te koop by Themela Mountain Vineyards vir net R110! Absoluut spotgoedkoop vir so ‘n top wyn. So bestel sommer ‘n paar vir hierdie feesseisoen. – dis die perfekte feesmaal bederf en ‘n ideale Kersgeskenk.

Sutherland

scroll-main

Ook beskikbaar in: English