Doller as kopaf – ons het almal daai dae. Partykeer is dit nie net ’n dag nie, maar sommer ’n hele week. Dís hoe dinge laasweek by Melkkos & Merlot was. Met nege outjies bewapen met hammers en ‘angle grinders’ op die dak kon dit nie eintlik anders nie. Dak vervang is nie vir sissies nie. Merlot’s ’n slim kat. Sy’t die spul een kyk gegee en vir vyf dae oor die pad na die bure verdwyn. Ek’t dit ook oorweeg, veral hier teen dag drie.
Almal wat al ooit ‘gerenovate’ het weet, kóók midde in al die chaos is nie pret nie. Maar eet moet mens. Toe die spulletjie uiteindelik begin bedaar en die knape oppak vir die dag maak ek ’n bottel wyn oop en loop snuffel in die vrieskas. Ek voer ’n oondvaste bak met gerookte skelvis (haddock), sommer nog so gevries. ’n Paar kannie-flop goeters bo-oor en ek gooi die spul in die oond. Dertig minute later lê ek weg aan knoffelrige, romerige, kaserige vis-verleiding en sien sommer weer kans.
Al wat jy nodig het is…
800g gerookte skelvis (haddock)
1 groot knoffelhuisie, gekap
knippie sout
½t varsgemaalde swartpeper
1 koppie (250ml) vars room
½ koppie gerasperde parmesaan of pecorino
groot bondel aspersies
olyfolie
suurlemoen
Pak die vis in ’n vlak oondvaste bak. (Wenk: Stokvis oftewel ‘hake’ werk net so goed). Roer die sout, peper, knoffel en kaas by die room en gooi oor die vis. Bak teen 180 grade Celsius tot gaar – so 30-35 minute. As die vis gaar is, verwyder en bedek met foelie om dit warm te hou. Maak vinnig die aspersies gaar. Gee hulle eenvoudig ’n klein leksel olyfolie en braai hulle in ’n warm riffelpan. ’n Skootjie suurlemoen hier heel aan die einde en die aspersies is reg. Bedien hulle dadelik saam met die vis, sommer baie van daai knoffelsousie en ’n stewige sny baguette vir die doop.
bedien
4-6
vooraf
5 min
bak
30-35 min
hallo , ek moet jou komplimenteer op elke liewe resep hier , dit is die eerste keer wat ek ‘n kos-blog raakloop wat dit op ‘n goeie Afrikaanse manier doen , jou respte is verstaanbaar en nie so hoogdawerend dat g’n mens dit kan uitvoer nie . baie dankie weereens hiervoor , ek geniet dit terdeë. gaan so voort ek hoop dit bly vir ewig !
Bly jy geniet Kathleen. Groete, Lizet en Merlot.