Ek sê De Krans en jy sê… port. Vanselfsprekend. Maar jy behoort eintlik ook ’n paar ander dinge sê want sien, De Krans maak nie net port nie. Ek kannie sê ek blameer jou nie. Tot so paar dae terug sou ek dieselfde gedoen het. Maar ’n onlangse kuier saam met De Krans mede-eienaar, Boets Nel, en hulle wynmaker, Louis van der Riet, het my die lig gewys.

Afgesien van port (nie dat mens dit eintlik meer port mag noem nie) maak die manne van De Krans lieflike tafelwyne met Portugese variëteite. Volgende keer as jy ’n rooiwyn soek, los die Shiraz en die Merlot en probeer vir ’n slag iets anders – soos De Krans se lieflike Tinta Roriz met sy wonderlike donker vrugte en hope spesery op die neus en tong. So lekker is hierdie wyn dat dit hulle wynmaker, Louis, derde plek besorg het in Diners Club se 2014 Jong Wynmaker van die Jaar kompetisie. Of probeer hulle Touriga Nacional. Met sy donker bessies, viooltjies en kakao op die tong is dit ’n belewenis – veral as jy ’n sappige Karoo lamtjoppie op jou bord het. Of as jy ’n koedoe steak op die braai gaan gooi. En as jy nou rêrig jou aanstaande skoonpa wil beïndruk, maak ’n bottel van hulle premium wyn, Tritonia oop, dis ’n komplekse, elegante vermenging van ’n paar Portugese variëteite.

scroll-main

De Krans: Cape Vintage (port), Tinta Roriz en nuwe Méthode Cap Classique.

scroll-main

Die ouens van De Krans hou hulle lywe gereeld baanbreker. Hulle was eerste om ’n Touriga Nacional tafelwyn in SA te maak, en nou doen hulle weer so – met die eerste MCC borrels wat gemaak word van ’n Portugese druif. Hulle Méthode Cap Classique (Zero Dosage) 2013 is ’n vermenging van Chardonnay, Chenin en… Tinta Barocca. Dis droog en vars en ek was mal daaroor.

De Krans se Portugese variëteite is wat hulle uitsonderlik maak, maar hulle woeker ook met meer klassieke druifsoorte. Boet erken na jare se gesukkel om Sauvignon Blanc suksesvol te groei het die warm klimaat van Calitzdorp hom uiteindelik onder gekry. Maar de Krans het wel ’n Chenin Blanc, Chardonnay en Cabernet Sauvignon. Ek’t almal geproe en hulle’s al drie wonderlike sakpas keuses. Dan is daar De Krans se parmantige Moscato Perlé 2015. Die naam sê dit als – dis perparfumeerde, soete borrelrige verleiding en sal veral onder die dames ’n treffer wees.

Die ideaal is natuurlik om die pad Klein Karoo toe te vat en by De Krans te gaan inloer (Warm wenk vir alle poppe onder 30: die wynmaker is sag op die oog.) Maar maak intussen solank met De Krans se wyne kennis. Hulle is landwyd beskikbaar by uitgesoekte winkels asook aanlyn direk van De Krans.

de-krans-logo

waar

Calitzdorp

wanneer

Oop Maandag – Saterdag

tyd

09:00-17:00 (15:00 Sat)

kontak

044 213 3314

Cat4

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.

scroll-main

Deel hierdie artikel

Ook beskikbaar in: English