Frans en maklik – dis die galette. Ek’s bietjie verlief of hierdie oopvorm tert met sy eindelose vulsel opsies. Onlangs het ek inspirasie uit die suide van Frankryk geput met ’n Provensaalse tapenade-en-uie galette. Hierdie week mik ek noord en vind my inspirasie in Normandië, tuiste van Camembert-kaas met ’n Camembert, preie en aartappel galette. Bon appétit!
Al wat jy nodig het is…
VIR DIE DEEG
2½ koppies koekmeel
½ koppie bruinmeel (wholewheat flour)
180g gesoute botter, yskoud, in klein blokkies gesny
½t sout
8E yswater
1 eier, geklits met 1E melk
VIR DIE VULSEL
10 preie, slegs die wit deel, fyn gesny
8 salieblare, gekap
1 knoffeltoon, fyn gekap
1E olyfolie
2E gesoute botter
¼t sout
8 baba aartappels
seesout en swartpeper
1 Camembert-kaas
Om die deeg te maak, plaas die koekmeel, bruinmeel, sout en botter in ’n voedselverwerker. Pols totdat die blokkies botter die groote van klein ertjies is. Voeg die water ’n lepel op ’n slag by en pols tussenin. Skep mengsel uit en gebruik jou hande om dit te druk tot die deeg net-net bymekaar kom. Vorm ’n sirkel sowat 5cm dik en bedek deeg met kleefplastiek. Plaas in die yskas vir 30 minute.
Kook die aartappels in soutwater vir so tien minute tot hulle net-net begin sag word. Braai die preie, salie, en knoffel oor lae hitte in die botter en olyfolie tot sag. Laat mengsel afkoel tot kamertemperatuur.
Sny ’n stuk bakpapier die groote van ’n bakplaat. Plaas die deeg in die middel en gebruik ’n koekroller om die deeg so 5mm dun uit te rol. Sny die aartappels dun en pak hulle op die deeg, maar hou ’n 4cm rand skoon. Skep die preie op die aartappels en versprei eweredig. Vou die 4cm randjie oor die vulsel. Gee die galette ’n goeie paar draaie seesout en sommer heelwat swartpeper.
Plaas galette, bakpapier en al, op ’n bakplaat en verf die deegrandjie met die eier. Bak in ’n voorverhitte 180 grade Celsius oond vir 25 minute. Bedek eers dan die preie met snye Camembert. (Doen jy dit vroër smelt die Camembert heeltemal weg en dis nie wat mens wil hê nie.) Bak vir ’n verdere 15-20 minute tot goudbruin.
Al daai botter en kaas maak hierdie Franse tert ’n ryk nommertjie. Ek sal dit dus nie in groot snye as hoofmaal bedien nie. Ek sny dit eerder in dun elegante-happie snytjies en bedien dit vuurwarm met ’n yskoue glas Chardonnay soos die son sak.
bedien
10
vooraf
25 min
bak
45 min
Los 'n Boodskap