Babas, kleuters, peuters… en honne. Kyk ek begryp eenvoudig nie hoekom adverteerders so mal daaroor is om hulle te gebruik om goed te smous nie.
Moenie my verkeerd verstaan nie, dis nie dat ek nie van babas hou nie. Ek’s nie juis handig met hulle nie en bang ek laat hulle val, so ek skram weg as iemand net-net lyk of hulle vir my ‘n baba wil ‘pass’. Maar ek hou van hulle. Sommer baie.
En ek’s kopaf dol oor enige dier. Hoekom hulle my egter sal noop om toiletpapier, verf en karre te koop, is nie vir my duidelik nie. (OK die bokser wat so breed grinnik met sy stel menstande is oulik. Maar nie so oulik dat ek ’n Hilux ‘double cab’ gaan koop as my Lotto-skip inkom nie.)
In plaas van my aanvuur, het sulke advertensies dikwels die teenoorgestelde effek. Hoe ’n bekende finansiële instansie se advertensie met ’n swetterjoel eenjariges met grootmens brille en arms vol papiere finansiële vertroue inboesem, weet ek glad nie. Hulle kry nie my geld nie.
Toe ek dus laas Saterdagaand in my seksie sweetpakbroek voor die TV lê en ‘surf’ en op nóg ’n baba advertensie afkom, was ek nie juis beïndruk nie. Maar toe begin die lotjie sing, en hulle ‘tap dance’ in hulle ma se maag. Dit alles oor hulle bly is sy eet Cadbury melksjokolade. Ek doen die ondenkbare. Ek lag. (Loer hier na die advertensie.) En die volgende dag loop koop ek Cadbury melksjokolade. Nou toe nou.
Om die sjokolade net so te verorber het te veel soos sonde gevoel. Toe kook ek daarmee – asof dit nou wonderbaarlik die kalorieë gaan verminder. Ek maak sjokolade-mousse en, omdat melksjokolade nie die diep, ryk smaak van ’n sjokolade met ’n 70% kakao inhoud het nie (wat ek gewoonlik vir mousse gebruik), help ek die storie bietjie aan met koffie én ’n skoot brandewyn.
Al wat jy nodig het is…
375ml vars room
4 eiergele
2 x 80g blokke Cadbury melksjokolade
2 eierwitte
3E kakao
6E suiker
2t goeie brandewyn (sien ‘goed om te weet’ laer af vir alkohol-vrye opsies)
3E stérk espresso (of gebruik goeie kwaliteit kitskoffie soos Jacobs, gemeng met 3E water)
Breek die sjokolade in klein blokkies en smelt. Die maklikste manier om dit te doen, is om die sjokolade vir 20 sekondes op ’n keer in die mikro te blits. Roer dit na elke 20 sekondes, selfs al lyk dit nog solied. Hou aan met die 20-sekonde/roer storie tot die sjokolade gesmelt is.
Plaas 175ml van die room, die eiergele, suiker en kakao in ’n hittevaste bak oor ’n pot kokende water. (Maak seker die bodem van die bak raak nie aan die water nie.) Verhit die mengsel stadig terwyl jy deurentyd klits. Dit van ’n hele rukkie so, tensy jy bultende armspiere het of wil hê, beveel ek aan jy gebruik ’n elektriese klitser. Hou aan klits tot die eier genoeg gekook het om die sous te verdik (so 7 minute). Verwyder van die hitte en roer die koffie, brandewyn en gesmelte sjokolade by.
Laat die mengsel afkoel. Jy kan dit sommer blitsvinnig doen deur die bak in ’n groter bak gevul met yswater en ysblokkies te sit. Klits of roer dit om te verseker die hele mengsel word aan die koue blootgestel en binne minute sal die mengsel yskoud wees. (Of jy kan die mengsel laat staan tot dit kamertemperatuur bereik het en dan in die yskas sit vir ’n uur.)
Klop die oorblywende room styf. (Wenk: Proe die sjokolade mengsel vóór jy die room klop. As dit nie soet genoeg is na jou smaak nie, kan jy strooisuiker na smaak by die room voeg wanneer jy dit klop.
Klop ook die eierwitte tot styf. Vou ’n derde van die geklopte room in die sjokolade mengsel in om dit bietjie losser te maak. Vou dan versigtig die orige room en eierwitte by om soveel as moontlik van die lug in te hou.
Skep die mengsel in individuele bakkies en verkoel in die yskas vir ten minste vier ure voor jy bedien. Hierdie mousse sal vir 2-3 dae in die yskas hou. Sif kakao oor net voor jy bedien.
Daar is sommer baie wat jy met hierdie resep as ’n basis kan doen. Loer na GOED OM TE WEET vir ’n paar idees!
bedien
8
vooraf
30 min
verkoel
4 ure
goed om te weet
Nog idees vir hierdie resep
- Laat die koffie en brandewyn uit en vervang met ‘n paar druppels peperment-essens. Krummel ‘n ‘Peppermint Crisp’ bo-oor net voor jy bedien.
- Laat die koffie uit en vervang die brandewyn met kersie schnapps. Week kersies of ‘n mengsel van kersies en bessies in twee eetlepels kersie schnapps en twee eetlepels suiker. Skep oor die mousse net voor jy bedien.
- Maak die resep net so en krummel ‘n ‘Crunchie’ oor.
lekker saam met
My keuse hierby is effe ongewoon – ‘n Ratafia. Dis ‘n wyn met ‘n laaang geskiedenis. Die naam kom van Latyn – Rata Fiat – dís hoe oud hy is, en dis traditioneel gebruik as deel van die Katolieke huwelikseremonie. In Frankryk is Ratafia algemeen, maar hier is dit sover ek weet net die mense van Haute Cabriere in Franschhoek wat dit onder die Pierre Jourdan vaandel maak.
Wat is dit? Soete verleiding en die perfekte poedingwyn. Dis word gemaak van 100% Chardonnay druiwe en versterk met brandewyn.
Dis die perfekte pasmaat vir hierdie poeding en met ‘n kelderprys van R85, is dit beslis die moeite werd om te probeer.
Los 'n Boodskap