’n Dierbare vriendin van my is so pas terug van twee weke se vakansie in Australië. Oor ’n koppie tee gesels ons oor R90 vir ’n glas wyn, spietkops wat nie nonsens vat nie en hoe daai oulike koala-bere nogal ’n klankie aan hulle het. Nie soveel as ’n leeu nie verstaan, maar tog.

Maar die ding wat my oor eintlik vang, is haar storie van die Suid-Afrikaner wat sy daar ontmoet het. Die een met ’n waarskynlike spekvet bankbalans – danksy die Mrs Ball’s Chutney, Crosse & Blackwell mayo en Ouma beskuit wat hy so invoer vir onse mense daar ver. So dié resep is vir al my lesers Daar Doer Onder. Hierdie is Ouma beskuit weliswaar. Maar dis MY Ouma s’n. En dis ’n duisend keer beter as daai ander Ouma s’n. So maak dit.

Al wat jy nodig het is…

1kg bruismeel
1kg Nutty Wheat meel (of enige ander soortgelyke ligte bruinmeel)
4t bakpoeier
2 koppies suiker
1 koppie sonneblomsaad
1E sout
2 ekstragroot eiers
2 kartonne karringmelk
4E melk
500g botter

Voorverhit jou oond tot 180 grade Celsius en spuit twee groot broodpanne met Spray ’n Cook (of smeer hulle met botter).

Meng al die droë bestanddele, insluitend die sonneblomsaad, in ’n groot bak. Klits die eiers saam met die melk en karringmelk in ’n aparte bak. Smelt die botter (jy kan ’n pot gebruik, maar ek blits dit sommer in die mikro).

Voeg die eier/melk mengsel by die meel en roer deur. Voeg dan die gesmelte botter by en knie liggies tot alles net-net goed deurgemeng is. Jy kan die deeg net so in broodpanne skep, maar my ouma draai in haar graf. Nee, vir mooi ronde bogies bo-op jou beskuit, rol die deeg in groot balle (omtrent soos ’n ekstragroot eier) en pak die balle styf langs mekaar.

Bak vir 50-60 minute of tot deurgaar. (Soos met ’n koek, toets jy hom deur ’n klein skerp messie in te steek. As daar deeg aan klou, is hy nog nie reg nie.) Sodra die beskuit gebak is, verwyder en laat in die panne afkoel. Sny die beskuit soos ’n brood in dik snye (van so 3-4cm) en sny elke sny in drie of vier ‘vingers’. Siedaar, perfekte beskuit. Pak die beskuit op bakplate en droog hulle in ’n 80 grade Celsius oond uit tot hulle kliphard is. Dit vat ’n hele paar ure. Stoor hierdie karringmelk beskuit in lugdigte houers en gaan koop solank nog bestanddele, want jou familie gaan hulle pad vinnig oopsmul deur hierdie lotjie.

maak

80

vooraf

15 min

bak

1 uur

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir hierdie resep

As jy verkies, kan jy alles met bruinmeel maak, maar dan het jy ‘n ekstra 4 teelepels bakpoeier nodig. Jy kan ook sultanas bysit. As jy nie van sonneblomsaad hou nie, laat dit eenvoudig uit.

lekker saam met

Kyk, beskuit vra koffie. Maar niemand sê jy kan nie ‘n knertsie daarby oopmaak nie, veral nie hier so vieruur op ‘n Sondagmiddag net so na die Sondag slapie nie. Muskadel doen die ding, en nie veel doen dit beter as Nuy nie.

Hulle maak ‘n rooi een en ‘n witte. Of koop ‘n boks met altwee in. Dis net R288 vir ses bottels by die kelder of aanlyn. Nou praat jy mos.

Nuy

scroll-main

Ook beskikbaar in: English