Kyk ek’s nie ’n mens wat hou van vroeg uit die vere nie. Oukei Merlot jaag my meeste nagte 3vm, 4vm en weer 5vm op as sy by die kamervenster kom neul dat ek oopmaak. Dis nie asof sy nie ’n katdeur het nie verstaan, sy’s net ’n klein klits. Dis maar hoe dit is met ’n kat wat jou om haar vinger draai. Maar ek staan g’n niks vroeg op vir enigiemand anders nie… behalwe so elke dan en wan vir die Expresso ontbytprogram mense. Ek gee nie te veel om nie want sien kook op TV is vet pret. As bonus lyk ek boonop heel dag lank amper skaflik danksy die dik TV grimering. Toe hulle my dus onlangs vra om vorendag te kom met drie nuwe spotgoedkoop resepte sê ek natuurlik ja.
Ek besluit op botterskorsie want dis belaglik goedkoop hierdie tyd van die jaar en daar is soveel wat jy met hierdie lid van die pampoenfamilie kan maak. Ek maak vir hulle botterskorsie pampoenkoekies en botterskorsie en kekerertjie samoosas. My gunsteling resep van die drie is egter hierdie geroosterde botterskorsie en botterboon patee. Dis gesond verby, gepak met fantastiese speserye en kos minder as R20.
Om die geur van botterskorsie te verdiep verkies ek altyd om dit te rooster. ’n Blerts olyfolie, seesout en growwe swartpeper en dis in ’n 200 grade oond in met die knaap tot hy sag is. As jy verkies kan jy die botterskorsie stoom ook. Moet die lot net nie in water kook nie. Dis soos om in die hoofstraat af te stap met krullers in jou hare en ’n ‘sigret’ in die hoek van jou mond. ’n Onding.
Al wat jy nodig het is…
¾t komynsade
¾t koljandersade
2 huisies knoffel, fyn gekap
2E goeie olyfolie
¼t rissievlokkies (½t as jy hou van bietjie hitte)
1 blikkie botterbone, gedreineer en afgespoel
1 koppie geroosterde botterskorsie
1-2E water
sout, na smaak
pampoenpitte, feta en eetbare blomme vir garnering
Rooster die koljander en komyn in ’n pan (sonder olie) vir ’n minuut of wat, net totdat jy dit kan begin ruik. Verwyder en stamp die speserye fyn. (Wenk: ek gebruik ’n elektriese koffiemeul hiervoor, dit werk wonderlik.)
Braai die knoffel in die olyfolie oor lae hitte vir ’n minuut, en voeg dan die komyn, koljander en rissie by en braai vir nog ’n paar sekondes. Verwyder van die hitte. Sit die botterbone en botterskorsie in jou voedselverwerker en gooi die gegeurde olie oor. Blits tot dit fluweelglad is. As dit te dik na jou smaak is, voeg ’n lepel of wat water by. Proe vir sout. Skep die botterskorsie en botterboon patee in ’n fraaie bakkie en garneer met pampoenpoenpitte, feta en eetbare blommetjies vir die ekstra mooi.
bedien
6
vooraf
10 min
kook
30 min
Los 'n Boodskap