Sjoe, ons het dit gemaak mense – môre is amptelik die eerste dag van lente. Nie dat ek dadelik die flennie pajamas kan wegpak nie, maar die blote idee van warmer dae vra om gevier te word. En aangesien 1 September nie net Lentedag is nie maar ook nasionale Cap Classique dag dink ek dis heel gepas om die einde van winter te vier met ’n bottle borrels! Het jy inspirasie nodig? Kyk na hierdie lieflike lente dames…

scroll-main

Krone: Vintage Rosé Cuvée Brut 2020.

Krone Vintage Rosé Cuvée Brut 2020 – Hierdie Cap Classique is gemaak op die Twee Jonge Gezellen landgoed in die Tulbagh vallei van 92% Pinot Noir en 8% Chardonnay. Die druiwe is met die hand gepluk in die koele naglug en net vry-vloei sap is gebruik vir die wyn. Dis die mooiste ‘girlie’ pienk met ’n intense neus van wilde bessies en aarbei asook die minerale aksent van klam klei. Teug en jy proe die vars sitrus van bloedlemoen en naartjie plus framboos met ’n aarbei-kus einde. Dis landwyd beskikbaar hier by die R190 merk.

scroll-main

Bollinger: Rosé Champagne.

Champagne Bollinger Rosé – Lus vir ’n guitige Franse dame? Bollinger se Rosé is ’n versnit van 62% Pinot Noir, 24% Chardonnay en 14% Pinot Meunier vanaf 85% Grand en Premier Cru wingerde van uitsonderlike kwaliteit. Champagne Bollinger Rosé verlei met ’n pragtige salmpienk kleur en rooibessie, kersie en aarbei geur. Kompleks en verfynd, op die tong bespeur jy sappige wilde bessies met ’n titsel romerigheid en ’n lang intense einde. Teen hier by die R1400 merk ruk dit die sak, maar Lentedag kom net een keer ’n jaar!

scroll-main

Nicolas Feuillatte: Réserve Exclusive Brut Rosé.

Champagne Nicolas Feuillatte Réserve Exclusive Brut Rosé – Wie kan hierdie bottel weerstaan? Die inspirasie is die Sakura (kersiebloeisel) seisoen in Japan. Dis gemaak van 45% Pinot Noir vir rondheid en struktuur, 45% Pinot Meunier vir vrugtigheid en ’n sagte, soepel karakter en 10% Chardonnay vir elegansie en finesse. Die mooiste granaat-pienk met rooibessie en framboos asook aarbei op die neus en die tong. En as jy nou Frans wíl wees is dit teen hier by die R900 merk heelwat goedkoper as die Bollinger.

scroll-main

Ook beskikbaar in: English