Lente wink! Hier en daar is ’n bloeisel wat kop uitsteek; die kat dring nie meer aan op lepel lê die hele nag lank nie; en die voëltjies koer my al vroeër wakker. Maar twee koue fronte kort na mekaar in die Kaap die laaste paar dae wys winter is nog nie klaar met ons nie. Winterkos soek ek steeds – bredies en sop en gebakte warm poedings. Iets soos hierdie bloubessie-en-port skonpoeding.

In Amerika noem hulle dié tipe poeding – bestaande uit ’n vrugtebasis gebak met hompies deeg bolaag – ’n ‘cobbler’. My woordeboek gee my net ‘skoenmaker’ as vertaling vir ‘cobbler’, en met skoene het hierdie bloubessie fees natuurlik niks te make nie. So, reg of verkeerd, besluit ek in Afrikaans doop ek hierdie knaap ’n skonpoeding.

Amerika is inderdaad die heimat van die ‘cobbler’. Soos met menige horingoue resep, was nood en skaarste die inspirasie. Blykbaar kon Engelse setlaars nie maklik hande lê op die harde niervet wat hulle verkies het vir gebakte poedings nie. Oonde was daar ook nie noodwendig nie. Skeppies skon-erige deeg op ’n laag vrugte en ’n warm oop vuur was hulle oplossing, en drie honderd jaar later maak hulle dit steeds.

Appels en perskes is baie gewild vir Amerikaanse skonpoedings, maar baie ander vrugte werk of goed – appelkose, pruime, kersies en enigiets in die bessie-familie. Toe die mense van De Krans my vra om iets vir hulle op te tower met hulle port-styl Cape Ruby, was bloubessies onmiddelik in my kop. Soos menige staatmaker ouma-tipe resep is ’n ‘cobbler’ of skonpoeding eenvoudig om te maak en soete sielsvreugde om te eet. ’n Groot skep vanielje-roomys of dubbel-dik room hierby en ’n glasie of wat van De Krans se Cape Ruby en ek’s reg om die laaste wintermaand te weerstaan soos ’n vaskopstut.

Al wat jy nodig het is…

Vir die vrugtelaag
5 koppies vars of gevriesde bloubessies
derde koppie suiker
1 hoogvol eetlepel Maizena
½ teelepel fyn kaneel
skil van een lemoen, baie fyn gerasper
derde koppie water
½ koppie De Krans Cape Ruby

Vir die deeglaag
1¾ koppies koekmeel
knippie sout
1E bakpoeier
½ koppie strooisuiker
100g koue botter, in klein blokkies gesny
1 eier
¼ koppie room
derde koppie melk
1E bruin suiker

Plaas die bloubessies in ’n oondvaste bak saam met die Maizena, suiker, kaneel en lemoenskil. Roer om te meng. Gooi die port en water by. Plaas in ’n voorverhitte 180 grade Celsius oond vir 10 minute. Maak intussen die deeg bolaag. Sit die meel, sout, bakpoeier, strooisuiker en botter in jou voedselverwerker en pols tot die botter in die meel verdwyn. (As jy nie ’n voedselverwerker het nie, maak soos ouma sou gemaak het en vryf die botter in die meel in met die punte van jou vingers.)

Klits die eier, melk en room goed saam, voeg by die meelmengsel en pols nog ’n paar keer tot die deeg net bymekaar kom. Skep eetlepels van die deeg op die vrugte, bestrooi deeg met bruin suiker en plaas terug in die oond vir nog 20-25 minute tot die skon bolaag goudbruin en deurgebak is. Bedien dadelik met vanielje-roomys, room of maskarpone.

Nog opsies vir hierdie resep:

  • Pruime is ’n uitstekende alternatief vir hierdie resep, dis wonderlik by die port en aansienlik goedkoper as bloubessies. Sny eenvoudig die pruime in kwarte of agtstes en verwyder natuurlik die steen.
  • Indien verkies kan jy die kaneel vervang met ’n soortgelyke hoeveelheid All Spice.
  • As jy verkies om nie alkohol te gebruik nie, vervang dit eenvoudig met dieselfde hoeveelheid water en voeg nog ’n eetlepel suiker by die vrugte.

Oor De Krans se Cape Ruby:

De Krans van Calitzdorp se wêreld is sinoniem met port. Natuurlik mag hulle deesdae nie meer die woord ‘port’ gebruik nie. Net wyne wat in ’n spesifieke streek in Portugal gemaak word is vir dié naam beskore. Soos jy kan verwag van ’n port-styl wyn, bevat De Krans se Cape Ruby tradisionele Portugese druifsoorte: Touriga Nacional, Tinta Barocca, Tinta Amarella en Souzoa. Dis die mooiste donker robyn met rooi- en bloubessies, kaneel en viooltjies op die neus. Op die tong is daar kersie, ryp pruim, spesery en sjokolade. Bedien De Krans se Cape Ruby teen kamertemperatuur by poeding of saam met beskuitjies en kaas. Dis wonderlik net so skoon in die winter, en in die somer ’n koel bederf bedien op ys met soda.

bedien

4

vooraf

10 min

bak

40 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English