As kind was die groente op ons borde nie juis wat mens interessant kon noem nie. Daar was blomkool, bone, wortels, botterskorsies, ertjies en aartappels. Dis al. Sampioene was net in blikkies, wit aspersies ook. Hulle’t net uit die koskas gekom vir belangrike geleenthede, soos as die kerktannies met die wit handskoene en vere in hul hoedens vir tee gekom het. Dan het ouma souttert met hulle gemaak, omtrent al waarvoor hulle goed was.

‘Fast forward’ so twintig jaar (oukei dertig) en ons baljaar lustig met die eksotiese – Jerusalem artisjokke, kohlrabi, kale. Ek weet nie eens wat die helfte van die goed in Afrikaans is nie.

My hart trek nie ’n punt vir toeka se vaalgekookte groente nie, met een uitsondering: blomkool met kaassous. Maar dis nie ’n resep nie, almal weet tog hoe om blomkool te kook en ’n basiese kaassous te maak. Ek besluit om te speel, en al die onthougeure van blomkool met kaassous in ’n sop te sit. Hier’s hy, blomkool-en-kaassop met parmesaan-ciabatta croutons.

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE SOP
2E botter
1 groot ui, fyngekap
600g blomkool, gewas en opgekap in klein stukkies
2½ koppies water
½ koppie melk
2 sakkies Woolworths ‘liquid chicken stock concentrate’ (as jy ander hoenderaftreksel gebruik sal jy moet proe en die sout aanpas)
½t sout
¼t witpeper
¼t fyn neusmuskaat
1 loerierblaar
1 knoffelhuisie, fyngekap
½ koppie goeie parmesaan (of grana padano of pecorino)
8E room

VIR DIE CROUTONS
4 dik snye ciabatta, in groot blokke gesny
olyfolie
parmesaan

Braai die ui in die botter oor lae hitte tot sag. Voeg die res van die sop bestanddele by behalwe die kaas en room. Bedek en kook oor lae hitte tot die blomkool sag is. Verwyder die loerierblaar en blits die sop in jou versapper tot roomglad. Plaas terug op die hitte en roer die kaas en room by.

Maak die croutons terwyl die sop kook. Besprinkel eenvoudig die broodblokkies met goeie olyfolie en rasper kaas oor. Meng liggies deur met jou vingers. Tuimel op ’n bakplaat gevoer met bakpapier en bak teen 120 grade Celsius tot bros.

Sit die sop voor met die croutons, bietjie ekstra parmesaan en ’n knippie neusmuskaat.

bedien

4

vooraf

10 min

kook

25 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog opsies met hierdie resep

1) As jy die skaal dophou, laat die kaas uit, dis steeds heerlik danksy daai leksel room.
2) Braai spek tot bros en krummel dit oor die sop in plaas van die croutons. As jy onverskillig voel, doen altwee!
3) Om hierdie sop meer ‘gourmet’ te maak, stoot die lotjie deur ‘n sif nadat jy dit geblits het.

scroll

lekker saam met

My keuse hierby is ‘n goeie swaargewig Chardonnay. Lanzerac se Premium Reeks Chardonnay 2014 is perfek. 80% van hierdie wyn was in 300L Boergondiese houtvate en die orige 20% in staaltenke. Tog is dit nié soos 1985 Chardonnay nie – so woes van die hout dat jou ore tuit. Die hout in hierdie wyn is subtiel en in balans met die hope vrugte. Verwag primêre sitrus op die neus gevolg deur lieflike gemmer, naeltjie and vanielje. Dis moeilik om ‘n ordentlike Chardonnay teen ‘n bilikke prys te kry.

Ek gee Lanzerac tien uit tien want hulle huidige aanlynprys is net R105. Fantastiese waarde vir wat jy kry. Ek neem nie aan jy gaan my automaties glo nie, maar ander stem saam want hierdie wyn het Michelangelo goud gekry. Mnr Platter dink ook dis heel skaflik.

Lanzerac

scroll-main

Ook beskikbaar in: English