Bief-stroganoff frikadelle vir rys of pasta… Ja ek weet dit klink bitter eienaardig, maar gee kans. Want sien, dié is die tipe dis wat ouma sou gemaak het. Dis nou die semi-Italiaanse ‘dorp’ ouma wat met ’n boer loop trou en op ’n Hoëveldse plaas opgeland het. Sy’t niks gemors nie – dit was seker die depressie gevolg deur ’n wêreldoorlog wat haar so gemaak het. Kyk, wat dié vrou met ’n halwe ‘vienna’, ’n eier en ’n koppie meel kon maak was indrukwekkend.

Ouma se lewenslessies het duidelik indruk gemaak want tot vandag toe het ek ’n broertjie dood aan mors met kos. Al is daar net één lepeltjie van ’n ding oor móét dit opsluit gebruik word. Dis oor ’n halwe houertjie suurroom en ’n handvol verlepte sampioene wat hierdie bief-stroganoff frikadelle die lewe gesien het. Sê suurroom en sampioene, en stroganoff is vanselfsprekend ’n kandidaat. Biefstuk die was daar nie, bees maalvleis in die vrieskas wel. Toe dag ek, hoekom dan nou nie?

Al wat jy nodig het is…

Vir die frikadelle
500g bees maalvleis
¾t sout
⅛t neutkusmaat
½t swartpeper
1t fyngerasperde suurlemoenskil

Vir die stroganoff-sous
1 ui, baie fyn gekap
250g sampioene (ek het portabellini gebruik, maar gewone knopiesampioene is piekfyn)
1 knoffelhuisie, baie fyn gekap
1½ koppies water
2 x 25g Woolworths ‘beef liquid stock concentrate’ (of enige ander goeie vloeibare ekstrak soos Nomu se ‘beef fond’)
¼t swartpeper
½t sout (hierdie hoeveelheid sout is aangepas vir die Woolies ekstrak. As jy ’n ander tipe gebruik, proe liefs eers en voeg by na smaak)
6 hoogvol eetlepels suurroom
olie vir braai

Voeg die frikkadel bestanddele bymekaar, meng goed deur en vorm klein frikadelle. Braai ’n paar frikadelle op ’n slag in ’n warm pan met bietjie olie tot die frikadelle mooi bruin is. Verwyder en hou eenkant. Voeg die uie by dieselfde pan en roerbraai oor lae hitte vir vyf minute. Stel die hitte hoer, voeg die sampioene by en roerbraai vir nog vyf minute. Volgende kom die knoffel by en word gebraai vir ’n minuut of wat.

Voeg dan die water en bees-ekstrak by, draai die hitte laag, sit die deksel op en laat die spulletjie prut vir so 10 minute. Roer die suurroom volgende by sowel as die peper en pas sout aan soos nodig. Sit die frikadelle terug in die pan om deur te verhit en bedien dadelik met rys of pasta. Bietjie grasuie of gekapte Italiaanse pietersielie oor is ook nie ’n slegte idee nie.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

20 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English