Wonderlike wyne vir die proe kom klop gereeld aan my deur. Soos laasweek, toe Vondeling van die Voor-Paardeberg kom hallo sê. In die boks? Hulle premium Rhône-styl rooiwyn, Monsonia. Maar dis nie al nie. Snoesig langs die wyn lê daar ’n ui, knoffel, suurlemoen, ’n blik sampioene en ’n blik room, plus ’n reseptekaart vir daai gastronomiese ikoon van die sewentigs, Stroganoff.
Die laaste keer wat ek sampioene uit ’n blik geproe het was hier 1980 se kant. Tóé het ons gedink sampioene, nes aspersies, is blikkos – maar nie sommer gewone blikkos nie, grênd kos. Eksotiese kos. Amper volksvreemde kos. Pretoria of Johannesburg was miskien anders, ek sal nie weet nie, maar op ’n klein Hoëveld dorpie in die tagtigs was vars ondenkbaar, en Denny se blikkies in die OK die enigste genade.
Skoon nostalgies sit ek af supermark toe want Stroganoff vra bees en vir my sewentiger blikkieskos Stroganoff soek ek nog ’n ikoon van die 70s – ‘tenderised steak’. Wagyu; 90-dae veroudering; biefsteaks so dik soos my bo-arm gesny, díé was alles nog ’n goeie dertig jaar in die toekoms. Daai dae was steak dun stukkies vleis, katswink geslaan. Onder die stert, agter die skof, neffens die oor… wáár die vleis uitgesny was, was irrelevant. Wat saak gemaak het, was die woord ‘tenderised’. Fênsie verby.
Ek het Vondeling se resep getrou gevolg, met net ’n paar klein veranderings natuurlik. Soos meer sous, want as dit by sous kom is meer altyd beter. En ’n paar sakkies van Woolies se intense sampioen-aftreksel, want dis ’n fees van ’n produk wat deesdae altyd in my koskas is.
Al wat jy nodig het is…
800g goedkoop ‘tenderised steak’
kookolie
1 ui, in dun ringetjies gesny
2 knoffelhuisies, gekap (ek rasper myne op ’n fyn, piepklein raspertjie, dis só vinnig)
2E gesoute botter
1 hoogvol eetlepel koekmeel
1 koppie warm water
¼t sout
½t varsgemaalde growwe swartpeper
2 x 25g sampioengeur Woolworths ‘liquid stock concentrate sticks’
1 x 400g blikkie sampioene, gedreineer
200ml langlewe room
1 suurlemoen
groot handvol Italiaanse pietersielie
rys of tagliatelle, vir bedien
Sny die vleis in dun repies. Verhit ’n dikbodem staalpan of geëmaljeerde ysterpan tot superwarm. Voeg twee eetlepels kookolie by en voeg ’n kwart van die vleis by. Braai vir 60-90 sekondes tot mooi gekarameliseer en net-net gekook (As ek sê warm pan, bedoel ek duiwels warm!) Herhaal met die res van die vleis, bietjies op ’n slag, en voeg nog kookolie by soos nodig. Verwyder vleis, draai hitte heel laag of verwyder pan heeltemal van hitte. Voeg botter en uie by en braai vir ’n minuut. Voeg knoffel en meel by en roer tot meel verdwyn. Voeg water by en roer oor lae hitte om al daai mooi bruin stukkies lekkerte van die bodem van die pan te lig.
Voeg die sout, peper, sampioenaftreksel en sampioene by, sit deksel op en kook op lae hitte vir 5-7 minute tot die uie sag is. Maak intussen die suurroom. Roer eenvoudig die sap van ’n halwe suurlemoen by die room en laat staan vir 5 minute. Voeg die vleis by die sampioen-roomsous, proe vir sout en peper en pas aan soos nodig. Net voor bedien, druk die ander helfte van die suurlemoen oor die sous en bestrooi mildelik met gekapte pietersielie.
OOR VONDELING MONSONIA:
Vondeling is toegewy tot die bewaring van skaars fynbos spesies inheems aan die Paardeberg area. Hulle Monsonia versnit bring hulde aan een van die mees bedreigde spesies in die gebied, die Monsonia Speciosa. Dis bietjie van ’n mondvol, ek verkies sy pragtige volksmond name: Sambreeltjie of Slangblom.
Die 2016 Monsonia is ’n tipiese Rhône-styl versnit met 67% Shiraz, 21% Mourvédre, 8% Carignan en 4% Grenache. Daar is ses Shiraz klone op Vondeling, en net die beste maak dit in ’n bottel Monsonia. Die wyn word 16 maande verouder in Franse hout voor finale vermenging. Monsonia is nie ’n drink-met-jou-Wimpy-hamburger tipe wyn nie. Dis ’n spogwyn, perfek vir onthaal en spesiale dae. Jy maak hom op jou verjaarsdag oop, of gee hom vir jou aanstaande skoonpa as jy die jawoord loop soek. Rooivleis is wat hy vra.
Intens en kompleks, op die neus bespeur jy viooltjies en donker vrugte, ’n effe rokerigheid, naeltjie, koljander en neutmuskaat spesery. Op die tong dartel rooivrug, ’n sjokolade rykheid en wilde kruie. Monsonia is beskikbaar by Vondeling teen R215 per bottel en landwyd by uitgesoekte handelaars.
bedien
4
vooraf
5 min
kook
15 min
Los 'n Boodskap