Hond haaraf maak. Ou koeie uit die sloot grawe. Bobbejaan agter die berg gaan haal… Ek’s eenvoudig mal oor idiome en gebruik hulle sommer mildelik in my daaglikse geskerts – tot groot konsternasie van my Engelse vriende en familie wat nie ’n koekenkloo het wat ek bedoel nie.
My gunsteling is waarskynlik ‘boer maak ’n plan’. Niks beskryf my kombuisstyl beter as dit nie. Presies wat kan ek doen met ’n verlepte wortel, ’n blik tuna en ’n oorryp piesang hier vyf minute voor sewe op ’n weeksaand? My leë-koskas en oorskietkos oomblikke is wanneer ek op my kreatiefste is.
Laas Sondag was dit weer sulke tyd. Ek’t oorskiet biefstuk van die vorige aand gehad (dis nou as mens iets wat R120+ ’n kilo kos ‘oorskiet’ kan noem) en broccoli wat ’n goeie twee dae verby sy ‘sell by date’ was maar nog OK-erig gelyk het. My oplossing? Bief en broccoli slaai met kappertjiebessies en pecorino. En net om dinge interessant te maak, joghurtsous met ’n peperwortel-byt.
Al wat jy nodig het is…
400g biefstuk
gemengde slaaiblare (hoe fyner, hoe fraaier)
broccoli (verkieslik die een met die lang stingels)
halwe koppie dubbelroom Griekse joghurt
1E korrelmosterd
1E peperwortel (botteltjies ‘Creamed horseradish’ is te koop by meeste supermarkte)
halwe teelepel fyn knoffel
olyfolie
halwe suurlemoen
kappertjiebessies
blok pecorino of parmesaan-kaas
seesout (ek verkies Maldon)
growwe swart peper
Meng die joghurt, peperwortel, mosterd en knoffel met ’n knippie sout en spoegie swart peper en sit dit in die yskas.
Gee jou biefstuk sout en kook hom op ’n hoë hitte met ’n blerts olyfolie sodat hy goed karameliseer (ek verkies myne baie pienk binne). Verwyder van die pan en laat dit vir 15 minute rus. Kook die broccoli vir net ’n paar minute (hy moet nog lekker knars) en dompel dit dan in yswater om die kookproses te stop en die heldergroen kleur te behou.
Strooi die slaaiblare en broccoli op ’n mooi bord en bedruip met suurlemoensap en olyfolie. Rangskik die bief bo-op. Die kappertjiebessies en pecorino is volgende aan die beurt. Skep die joghurtsous oor (veral op die vleisstukkies). Dan net ’n draai swart peper en growwe seesout en jy’s reg vir smul.
bedien
4
vooraf
15 min
kook
15 min
goed om te weet
Hy’s bruin buite, maar is hy reg binne?
Die maklikste manier om te toets of ‘n dik steak ‘rare’ gekook is, is om hom met jou vinger te druk om te sien hoe sag hy is.
Hou jou voorvinger en duim teenmekaar (moenie druk uitoefen nie). Druk nou op die kussing van jou duim. As jou steak só voel, is hy reg.
lekker saam met
Bees sê vir my gewoonlik net een ding – rooiwyn. Maar hierdie is ook ‘n slaai, so ek soek nie iets swaars nie. Balance se 2013 Pinotage/Shiraz vermenging is lig, vrugtig en sakpas hier by die R35.
Ek weet dit beteken nie veel nie, maar ek hou ook van die bottel. Daai oliefantjie herhinnner my nogal aan myself as ek hoëhak skoene dra – ongemaklik gebalanseer op iets hopeloos te klein!
Los 'n Boodskap