OLIEBOLLE… Klink half na ’n ding wat ek nie wil eet nie. Sê ‘doughnut’ en jy’t my aandag. Die probleem met die oliebol beskrywing, is dat dit die verkeerde indruk skep. Want die laaste ding wat ’n goeie ‘doughnut’ is, is olierig.

Amerika is natuurlik die tuiste van die oliebol. Dus was ek redelik opgewonde toe ek so paar jaar terug uiteindelik die kans kry om die land waar alles werklik groter is te besoek. Al daai flieks met polisiemanne wat dosyne oliebolle verorber voor hulle die skurke aanvat kon net een ding beteken – die beste oliebolle in die wêreld. Toe nou nie. Net so oninspirerend as die hier by ons.

Nee, as jy ’n oliebol wil proe soos hy behoort te wees, moet jy hom self maak. Dis veel minder moeite as wat dit klink. Danksy die wonder van die voedselverwerker is die eintlike ‘hands on prep’ tyd minder as 15 minute. Wat tyd vat, is die rys. Maar aangesien jy intussen ander goed kan doen – soos jou tone verf of die kat bad – dink ek nie dit tel nie.

Hierdie resep maak 20 perfekte twee-happie oliebolle. Jy kan ’n gaatjie in hulle druk en konfyt inspuit. Met die dat kortpad altyd my eerste keuse is, stapel ek hulle eerder op ’n groot bord met loperige konfyt in ’n aparte bakkie sodat almal self kan vat en lustig kan doop. Jy kan dit hou vir die teetafel, vir my is dit egter die ideale informele ‘family-style’ poeding. Wees gewaarsku, as jou mense aan die gulsige kant is, gaan die hare waai oor die laaste een.

Al wat jy nodig het is…

3t suiker
175g broodmeel
50g koekmeel
½t sout
25g gesoute koue botter
1 sakkie (10g) droë gis
90ml melk, louwarm
1 eier
halwe koppie strooisuiker
kaneel
Bonne Maman frambooskonfyt (raspberry), effens verhit sodat dit slapper is, perfek vir doop

Sit die meel, suiker, botter en sout in jou voedselverwerker en pols tot die botter verdwyn. Voeg die gis, melk en eier by en blits tot die deeg net-net ’n bol vorm.

Sif bietjie meel op jou werksoppervlak en tuimel die deeg uit. Knie liggies tot die deeg bymekaar kom en glad en elasties is. Verf ’n diep bak met sonneblomolie, plaas die deeg in die middel, bedek die bak met kleefplastiek en sit dit eenkant om te rys tot die deeg verdubbel (60-90 minute).

Sodra dit gerys is, tuimel uit op jou werksoppervlak en gebruik jou vingers (of vir ewerediger resulate ’n koekroller) en druk die deeg plat tot dit 2cm dik is. Gebruik ’n 3-4cm ronde koekiedrukker om deegsirkels uit te druk. Vorm die sirkels in perfekte ronde bolletjies. Die deeg is elasties, so in plaas van rol, gebruik ek ’n trek-en-indruk tipe aksie om die bolletjies te vorm. Plaas die bolletjies in ’n dieperige bak geverf met olie en bedek weereens met plastiek. Sit eenkant om te rys tot die bolletjjies verdubbel.

Braai die bolletjies in 4cm mediumwarm olie. As dit te warm is word die bolletjies te bruin buite en bly rou binne. Braai eers net een om te toets en pas die hitte aan soos nodig. (WENK: Draai die bolletjies ook konstant. Los jy hulle tot goudbruin aan die een kant voor jy hulle draai, wil hulle half nie.)

Verwyder sodra gaar en dreineer op kombuispapier. Rol dadelik in strooisuiker gemeng met hope kaneel. Vul met konfyt of bedien met effe warm konfyt in ’n bakkie vir mense om self te doop.

maak

20 klein

vooraf

15 min

rys

120 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English