Winter is behoorlik op ons. Hy klop nie net aan die deur nie mense, hy’t homself ingenooi en gemaklik gemaak op die bank. Kyk winter en ek is nie vriende nie. Ek steek my kop in die sand vir so lank as ek kan, maar gister moes ek uiteindelik hênsop en my vere duvet loop uitgrawe.
Merlot is ook nie juis mal oor winter nie. Sy’s meestal ’n opstêrse swart kat, maar kom die koue weer is sy skielik die ene vriendelikheid wat liefies kom soek heel nag lank. Sy lê my dat my lyf séér is. Maar ek skuif haar nie, want dis hoe dit is met katte in my huis – hulle kry net wat hulle wil hê.
Kos is my een ligpunt in die winter. Die soort kos wat jy lank en stadig stowe, sodat die hele kombuis warm is en ruik na lekker eet. Daar’s baie dele van ’n bees wat my hart vinniger laat klop. Vir lank en stadig stowe is dit die goedkoper snitte wat jy soek. Die dele van die bees met baie spiere of ligamente, die dele wat hard werk. Hulle’s taai, maar dis niks wat lank en stadig in ’n pot nie uitsorteer nie en hulle proe pure bees. Skenkel is een so deel, ons ken hom almal. Maar wanneer laas het jy aan nek gedink?
Beesnek is perfek vir ’n ragu vir pasta. Ek sit ’n murgbeen by want ek soek daai verleidelike rykheid. Vir suurbalans kry hy hope tamatie en rooiwyn. En dan’s daar knoffel, lourier en roosmaryn. Pure Italiaans. Pasta, hope goeie verouderde parmesaan en ’n gesonde glas of twee rooiwyn om alles mee af te was en skielik lyk winter na ’n heel gesellige seisoen.
Al wat jy nodig het is…
1kg beesnek
5cm murgbeen
1 groot ui, fyn gekap
2 stingels seldery, fyn gekap
2 medium wortels, fyn gekap
3E tamatiepasta
3 knoffelhuisies, fyn gekap
1 koppie rooiwyn
1 blik gekapte tamaties
2 koppies water
1E suiker
2 blokkies beesaftreksel (ek het sommer goeie ou Knorrox gebruik)
1 heel droë rooi rissie
2 lourierblare
1 klein stiggie roosmaryn
olyfolie, vir panbraai
gekapte pietersielie, parmesaan of pecorino, vir bedien
Verbruin die beesnek en murgbeen in olyfolie, verwyder en hou eenkant. Gooi die ui, wortels en seldery in dieselfde pot. (Slim kok wenk #1: Jy kan die uie, wortel en seldery met die hand fyn kap, ek bondel egter sommer die lot in my voedselverwerker en kry die kappery binne 30 sekondes uit die weg.)
Voef die knoffel en tamatiepasta by en braai vir ’n verdere minuut. Dan kom die rooiwyn by. Kook vir ’n minuut en voeg dan die res van die bestanddele by. Sit die deksel op en draai die hitte op sy heel laagste. Prut die knaap stadig totdat die nek sag is en die murg in die sous wegsmelt. Dit vat so 2-3 ure. As jou hitte laag genoeg is sal daar genoeg vloeistof wees. Maar beloer hom so elke dan en wan en voeg ’n bietjie water by indien dit te droog kook. (Slim kok wenk #2: Jy kan jou ‘slowcooker’ gebruik hiervoor, of sit die lotjie met die deksel op in ’n lae 150 grade Celsius oond en loop weg.)
Verwyder die rissie en roosmaryn stingel en vlok die vleis met twee vurke. Proe vir sout en pas aan indien nodig. Bedien met pasta van jou keuse mildelik bestrooi met gekapte pietersielie en parmesaan.
bedien
4-6
vooraf
20 min
kook
2+ ure
LIEWE MERLOT…..AI TOG, JY MOET VIR JOU OUNOOI VERTEL HOE MAL HIERDIE LESER IS OOR HAAR ‘BLOG’. JY WEET, JULLE KRY GLO KOUD DOER IN DIE KAAP…MAAR DIE REEN IS MOS MAAR BROODNODIG??!! ONS KUIER HEERLIK OP DIE EILAND MALLORCA…EN AL IS DIT AL PIKDONKER DOER BY JULLE (EN JULLE HEELWAARSKYNLIK REEDS ONDER DIE HEERLIKE DUVET), HIER BY ONS SKYN DIE SON NOG HEERLIK EN GENIET ONS DIE HITTE VOORDAT ONS MORE TERUGVLIEG SA TOE. EK MOET EERLIK WEES, EK MIS DIE PLEK, EK VERLANG NA MY HONDE-KINDERS (‘SKUUS TOG, JY IS SEKERLIK NIE MAL OOR DIE NOEM VAN HONDE NIE!!) EN NATUURLIK OOK MY MENS-KINDERS EN KLEINKINDERS.
O JA, EN VERTEL OOK VIR JOU OUNOOI ONS HET DIE WONDERLIKSTE KOOKKLAS IN DIJON GEHAD WAAR ONS GESIEN HET HOE LEKKER DIE FRANSE KAN KOOK!!
LIEFDEGROETE
MAGDA