Erfenisdag wink en die ganse land het kole en vleis op die brein. Afgesien van boerewors, is bees nie my gunsteling dier om te braai nie. Dis nie dat ek ’n ding teen bees het nie, maar ek dink daar is ander kookmetodes wat beter resultate gee as braai. Prys het ook heelwat daarmee te doen. Teen R140+ vir ‘rump’, ‘sirloin’ of filet is dit nie juis ’n logiese keuse om die menigtes mee te behaag nie.

Gelukkig bestaan koeie nie net uit ‘rump’ en ‘sirloin’ nie. Hulle’t sommer baie ander interessante dele. Dele wat nie noodwendig genoeg aandag kry nie. Soos flank (lies). Watter deel is dit? Jy kan loer na ’n prentjie hier, maar basies is dit die onderkant van ’n bees, hier by die ribbe rond.

Dis dun vleis met ’n growwe tekstuur en intens beeserig (op ’n goeie manier). Met so snit is die automatiese antwoord vir kook lank, stadig en verkieslik nat – soos in ’n bredie of vulsel vir pastei.

Maar die Amerikaners sny flank in steaks en braai hom. Miljoene van hulle kannie verkeerd wees nie, so met flank in my kop vat ek die pad na my slagter. Nié die plaaslike supermark slagter nie verstaan. Die outydse behoorlike tipe slagter – een wat ken van, vir jou sal gee waarvoor jy vra en ’n halfuur sal vat om met jou daaroor te gesels.

Terug by die huis gryp ek die skerpste van my flymskerp messe en sny alle orige sening af. Ek slat hom in toeskiklikheid in met my vleishammer en gooi dit in ’n eenvoudige marinade vir ’n goeie paar uur. Dan’s dit tyd vir ryg op my sosatie stokke en op die vuur. Ek verf dit liberaal met ’n parmantige Sriracha-sous en braai hom vuurwarm en blitsvinnig. En ek hou my lyf Suid-Amerikaans met warm sagte tortillas, tamatie-en-mielie salsa en crema (Meksiko se slapper weergawe van crème fraîche) daarby.

Doen jouself ’n guns hierdie Erfenisdag. Braai bietjie ietsie anders.

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE BEES
1kg beesflank
halwe koppie Worcestershire-sous
2 vet huisies knoffel, fyn gekap
¼t growwe swartpeper
4E olyfolie
twee-derde koppie tamatiesous (ek verkies All Gold of Heinz as dit moet)
2t Sriracha rissiesous (Woolworths en ander groot supermarkte hou dit aan)
1E vars origanum, gekap
VIR DIE SALSA
2 koppies klein ryprooi kersietamaties, in kwarte gesny
halwe koppie gevriesde mielies (ontvries deur kookwater oor te gooi)
halwe koppie rooi uie, fyn gekap
halwe koppie koljanderblare, fyn gesny
4E vars lemmetjiesap (NIE die een in die bottel nie)
knippie sout
1 matige rooi rissie, ontpit en fyn gekap (opsioneel)
VIR DIE CREMA
koppie crème fraîche
koppie vars room
1t sout
tortillas, vir bedien

Gebruik ’n skerp mes om enige orige sening te verwyder of vra jou slagter om dit te doen. Sny die vleis in langerige stroke. Gebruik ’n vleishammer (of koekroller) en gee die vleis ’n paar behoorlike klappe. Sit die vleis in ’n bak en voeg die Worcestershire-sous, knoffel, olyfolie en peper by. Meng deur, bedek en plaas in die yskas vir ten minste vier ure of so lank as oornag. Draai vleis ’n paar keer.

Kombineer al die salsa bestanddele en sit eenkant. Kombineer al die crema bestanddele en sit eenkant. Verwyder die vleis uit die marinade en vee dit liggies met jou vingers om oortollige marinade te verwyder. Vleg die vleis op sosatiestokkies (as jy hout gebruik, week hulle eers in water vir 15 minute).

Meng die marinade wat oor is met die tamatiesous, origanum en Sriracha. Plaas die vleis op ’n baie warm braai en verf met die sous. Jy kannie hierdie snit te lank braai nie, hy moet nog goed pienk wees binne. So 3-4 minute aan elke kant is voldoende. Bedien die vleis op ’n groot bord (met ’n skerp mes om dit in strokies te sny) sowel as die tortillas (op die braai verhit natuurlik), die salsa en die crema en laat elkeen sy eie perfekte braaihappie aanmekaarslaan.

bedien

4

marineer

4+ ure

braai

6-8 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Substitusies

As jy nie vars lemmetjies kan kry nie, gebruik vars suurlemoen. Dit sal nie dieselfde proe nie, maar soms moet mens ’n plan maak.

As jy nie Sriracha kan kry nie, gebruik ’n ander rissiesous – die een van Nando’s is heel gaaf.

Ek het dit nog nie probeer nie, maar ek dink hierdie resep sal ook wonderlik werk met goedkoop varkfilet. Jy sal dit natuurlik effe langer moet braai.

scroll

lekker saam met

Ietsie rooi, sag en sakpas is wat ek soek. Dis tog ’n braai, nie die opening van die parlement nie.

Fairview se La Capra Merlot, barstensvol rooibessie doen die ding. Die prys is ook heel skaflik.

La Capra Merlot

scroll-main

Ook beskikbaar in: English