Stap in ’n supermark in en dis net Valentyn swieties, beertjies en allerlei hartjie tierlantyntjies waar jy kyk. Jip, dis weer daai tyd van die jaar. Ek’s nie veel van ’n Valentyn romantikus nie maar ek glo wel in ’n goeie bord kos, veral op spesiale dae. Hierdie beesfilet au poivre met brandewyn-roomsous is regte spesiale-geleentheid kos. ‘Au poivre’ is natuurlik net fênsie Frans vir vleis bedek met peper. Soos soveel klassieke resepte is dit eintlik bitter eenvoudig maar die smaak is boonste rak!

Al wat jy nodig het is…

4 stukke beesfilet (vra jou slagter om hulle ten minste 5cm dik te sny)
growwe swartpeper en sout
botter en olyfolie, vir braai
¼ koppie brandewyn
¼ koppie water
¾ koppie vars room
50 g (2 x 25g sakkies) Woolworths demi-glacé concentrate beef stock (of enige ander goeie ekstrak soos die van Nomu)

Voorverhit die oond tot 180 grade Celsius. Geur die beesfilet liggies met sout. Gee jou broodbord ’n hele paar draaie swartpeper en rol die beesfilette daarin.

Verhit ’n kleefvrye braaipan en voeg twee eetlepels olyfolie en twee eetlepels botter by. Braai die beesfilette tot hulle net-net mooi bruin kleur het. Plaas hulle in ’n vlak oondvaste bak en dis tyd vir oond toe. Rooster tot gedoen na smaak. Die beste manier om te weet wat in ’n dik stuk vleis aan die gang is, is om ’n vleistermometer in te steek. Vir ‘rare’ moet die interne temperatuur van die vleis 50 grade Celsius wees. Dis 54 grade vir medium ‘rare’, 57 grade vir medium en 60 vir medium-goed gedoen.

Maak die brandewyn-roomsous terwyl die beesfilet in die oond is. Voeg die brandewyn by die pan waarin jy die filet gebraai het en kook vir ’n minuut of twee. Voeg die water, room en bees-ekstrak by en kook vir nog ’n minuut of wat. Steek ’n kers aan, skink ’n glas goeie wyn en lê weg!

bedien

4

vooraf

5 min

kook

20 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Brandewyn-roomsous alternatiewe

Die brandewyn in hierdie roomsous werk regtig goed by die swartpeper notas van die beesfilet. Maar as jy nie het nie of brandewyn is net nie jou ding nie, vervang die brandewyn in die roomsous met marsala of droë sjerrie.

scroll

maak ‘n bottel oop

Met al daai wonderlike swartpeper notas smeek hierdie filet au poivre vir ’n Shiraz! Iets soos Kleine Zalze se Vineyard Selection Shiraz 2018. Dis vir 21 maande in Franse vate verouder. Hierdie Shiraz lewer hope rooi bessie geure op die neus en op die tong saam met ’n titsel fynbos in die agtergrond.

Dis sappig met tanniene wat sag genoeg is vir nou drink, maar dit sal ook goed verouder vir so tien jaar, so koop sommer ’n paar! Teen tyd van publikasie is dit aanlyn beskikbaar teen R162 per bottel.

kleine zalze

scroll-main

Ook beskikbaar in: English