Die oggende het ’n besliste byt in die lug. Waar ek ’n maand gelede sesuur die pad kon vat vir my oggend drafstap moet ek nou wag tot 6:30 vir die son om lui-lui kop uit te steek. Die eekhorings maak verwoed neute bymekaar en blajaar uitbundig in my tuin. Blykbaar is my roosbedding net die plek om hulle winter-proviand te begrawe. Merlot hou hulle onbeïndruk van die voorstoep af dop. Ná die insident met die hap aan haar oor durf sy dit nie meer na aan hulle nie. Verbasend hoe geniepsig sulke klein knaagdiertjies kan wees! Ek aan die ander kant is heel in my noppies want herfs is my gunstelingtyd in die Kaap. Die dae is sonnig matig, en uiteindelik kan ek begin braai sonder dat ek wegwaai.
Hierdie varknek sosaties met hulle soetsuur balsamiek-appelkoos verfie is wonderlik oor die kole. Ek vrek oor vark, maar as dit nie jou ding is nie kan jy ook bees of hoender gebruik.
Al wat jy nodig het is…
Vir die glaseersel
2 vet knoffeltone, fyngekap
2½E gladde appelkooskonfyt
1E balsamiek-asyn
1E tamatiepasta
1½E vars roosmarynbare, fyngekap
2E sojasous
1E olyfolie
1E water
varsgemaalde swartpeper – so agt draaie is genoeg
Vir die sosaties
600g dik varkneksteaks, in groot blokke gesny
12 sagte droë Turkse appelkose
2 rooi uie, in kwarte gesny (hou die wortel aan, dit help dat die uie nie uitmekaarval nie)
olyfolie
sout
Sit al die bestanddele vir die glaseersel in ’n klein kastrol en kook dit op lae hitte vir vyf minute. Ryg die varknek, appelkose en uie op sosatiestokkies. (As jy houtstokkies gebruik, week hulle vooraf in water vir tien minute anders brand hulle op die vuur.) Verf sosaties met olyfolie en gee hulle ’n paar draaie sout. Braai tot hulle amper gaar is. Verf hulle mildelik met die glaseersel vir die laaste tien minute se braai. Doen jy dit vroeër sal die suiker in die glaseersel te veel brand.
Ek hou daarvan om hierdie varknek sosaties met ’n herfslaai van fyngekapte rooikool, wortels, seldery, radyse en pampoenpitte te bedien. ’n Eenvoudige rooiwynasyn en olyfolie vinaigrette daarby is al wat die slaai vra.
maak
4
vooraf
10 min
braai
15-20 min
Goed om te weet
‘n Oosterse kinkel
Lus om hierdie appelkoos-glasuursel ’n sweempie van die Ooste te gee? Vervang dan die roosmaryn met koljanderblare en voeg ’n stewige teelepel fyngerasperde vars gemmer by. As jy hou van ’n effense byt is ’n paar skyfies rooi rissie ook nie ’n slegte idee nie.
As jy die Oosterse ding doen sal ek nie die Barista rooi daarby oopmaak nie. ’n Witwyn soos die Barista Chardonnay is gaaf.
My wynkeuse hierby
Nege keer uit tien verkies ek witwyn of rosé by vark, maar vark kan definitief ook rooiwyn hanteer. Met sy rokerige braaigeur en die intense roosmaryn is hierdie varknek sosaties definitief opgewasse vir iets soos Pinotage. My keuse hierby? Barista Pinotage.
Pinotage is ’n unieke Suid-Afrikaanse kultivar, die resultaat van ’n kruising tussen Pinot Noir en Cinsaut oftewel Hermitage in 1925. Met ouers soos dié is hope bessievrug ’n uitgemaakte saak vir enige Pinotage. Die ding waaraan mense egter meeste dink as dit by Pinotage kom is natuurlik koffie. Nee, die koffiegeur kom nie van regte koffie nie! Dis die resultaat van hoe die houtvate vir die wyn gerooster word.
Die meesterbrein agter Barista Pinotage is Bertus Fourie, voorheen van Diemersfontein en voormalige senior wynmaker by KWV. Sy bynaam is ‘Starbucks’ oor hy ’n koffie-Pinotage bobaas is. Bertus se Barista is ’n sakpas koffie-Pinotage wenner.
Afgesien van die koffie sal jy ook sjokolade bespeur, plus pruim, moerbei en marachino-kersies. Propvol vrugte en sappig, is hierdie by uitstek ’n wyn gemaak vir Suid-Afrikaanse smaak. Vat ’n bottel na jou volgende braai toe en jy is almal se pêl!
Los 'n Boodskap