As dit by kook kom is daar twee perde in die Franse stal. Die Escoffier-manier: Met 20 stappe en drie dae se gesloeg in die kombuis – fabulous as jy iemand anders kan betaal om dit te doen. En dan’s daar die perd waarop ek my geld elke keer sit, die Franse ouma manier: Met uitstekende bestanddele, bitter min werk en ’n erg indrukwekkende eindresultaat.

Tarte tatin is een so Franse ouma geheim. Dis basies ’n onderstebo tert en as jy hom nog nooit gemaak het nie, is nóú die tyd. Soos menige wonderlike resepte is tarte tatin die resultaat van ’n ongelukkie in ’n Franse kombuis hier erens in die 1880s. Die oorspronklike tarte tatin resep gebruik appel en is inderdaad my gunsteling wat heel winter lank dikwels sy verskyning op my Sondagtafel maak.

Appel is egter nie die enigste vrug wat hemels in ’n karamelstropie onder ’n bros blaardeegkombersie is nie. Sonrype, stroperige appelkose werk net so goed. Ek sit ’n stiggie roosmaryn by myne, want kruie is nie net vir soutgoed bedoel nie! Wat uit die oond uit kom is soete karamel verleiding met net ’n sweempie suur. Die ruik en die proe daarvan herhinner my soveel aan die appelkooskonfyt wat Ma donkiejare terug in groot koper kastrolle op haar plaaskombuis-Aga gekook het.

As die roosmaryn storie jou nie aanstaan nie laat dit uit, dis steeds lekker. Die enigste ding wat nie onderhandelbaar is nie, is dat jy hierdie Franse knaap warm moet bedien. Met ’n ongeskikte groot lepel dubbelroom of crème fraîche natuurlik.

As ek Frans kook maak ek gewoonlik ’n bottel borrels daarby oop. Ons het soveel ongelooflike MCCs om van te kies, soos Krone Borealis, ’n jarelange gunsteling van my. Die mense van Twee Jonge Gezellen het vir my hulle 2018 gestuur om te proe en wat ’n fees was dit nie. Lees meer oor hierdie MCC laer af.

Al wat jy nodig het is…

½ koppie suiker
2E koue botter, in blokkies gesny
1 stiggie roosmaryn (opsioneel)
500g boksie appelkose, gehalfveer
een vel botter-blaardeeg (Woolworths se All-butter Puff Pastry)
dik room of crème fraîche, vir bedien

Voorverhit jou oond tot 200 grade Celsius. Sit die suiker in ’n dikbodempan wat veilig is vir die oond. Verhit die suiker oor lae hitte tot gesmelt. Jy kan die pan ’n paar keer kantel as dit moet, maar moenie die suiker roer nie! Verwyder van die hitte sodra die suiker gesmelt en ligbruin is. Roer die botter by tot dit met die suiker kombineer. Plaas die stiggie roosmaryn in die middel van die pan en bedek die hele pan met die appelkose, met die gesnyde kant na onder. Indien nodig, rol die deeg groter sodat dit 2cm groter as die pan is. Bedek die appelkose met die deeg, vou die kante snoesig in soos jy ’n baba sal ‘intuck’ en maak ’n klein snytjie of twee in die deeg vir die stoom om te ontsnap. Bak tot goudbruin en pofferig.

Laat die tarte tatin vir ’n minuut staan. Plaas dan ’n groot bord bo-op die pan, druk stewig vas en keer dit vinnig om sodat die tarte tatin uitglip op die bord. Doen jy dit nié terwyl dit baie warm is nie, sal die tarte tatin kleef aan daai pan sodat ’n hammer en beitel hom nie gaan uitkry nie! Vanselfsprekend is ’n vadoek noodsaaklik vir die vashou van die vurige pan. Bedien warm en maak gereed om komplimente te ontvang.

bedien

8

vooraf

15 min

bak

25 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English