Gister se mense, plekke en dinge. Vir sommiges tower musiek goue herhinneringe op, vir ander is dit reuk. Maar vir my is dit kos.
Ouma se hoenderpastei met veerligte deeg, ryk van die plaasbotter wat ek self in die yl winterson op haar agterstoep gekarring het. Poetoepap met regte egte melk, die soort in ’n groot wit emalje melkbeker met ’n doilie op. Die soort wat jy eers moes roer om die duim-dikke laag room deur te meng. Osstert wat jou vingers aanmekaar laat kleef as jy klaar aan die beentjies geknaag het. En bruinpoeding, verdrink in Ideal-melk en oumaliefde.
Hierdie’s die kos van my kindwees. My plaaswees. Die kos waarna ek hunker as die dae kort en die nagte koud raak.
Hierdie malva poeding is ouma s’n, maar ek het met hom gewikkel. Hy’t minder botter en minder suiker (ouma was nie skaam met hierdie dinge nie), ek het meeste van die room met Ideal-melk vervang, want ek’s dol daaroor. En ek het appels ingegooi, want ek’t ’n blik in die koskas gehad en gedink ek’s ougat. ’n Skep vanielje-roomys is al wat hy vra. ’n Sopie brandewyn op die kantlyn sal ook nie seermaak nie.
Al wat jy nodig het is…
VIR DIE MALVA
1 koppie suiker
2 ekstra groot eiers
1t vanielje-ekstrak
¼ koppie melk (125ml)
1⅓ koppie bruismeel (150g)
stewige knip sout
1 x 385g blikkie appels, gedreineer en in groot stukke gesny
VIR DIE SOUS
1 koppie ingedampte melk (Ideal melk)
¼ koppie gesoute botter
5E room
3E suiker
VIR BEDIEN
kaneel (opsioneel) en vanielje-roomys
Gebruik ’n elektriese menger en klop die eiers, vanielje en suiker saam tot dit lig en romerig en die suiker opgelos is. (Wenk: Voel met jou vingers, as jy nog baie suiker voel, hou aan klop sus.) Sif die meel en sout saam en voeg dit om die beuert met die melk by die eiermengsel. Gooi in ’n groot oondvaste bak en bedek eweredig met die appels. Maak toe met ’n deksel of foelie en bak in ’n voorverhitte 180 grade Celsius oond tot deurgaar – 40-50 minute afhangend van jou oond. Toets hom soos ’n koek – steek eenvoudig ’n dun messie in die middel van die bak. Kom hy skoon uit, is hy reg. Kleef deeg aan hom vas, het hy nog ’n paar minute nodig.
Maak die sous terwyl die malva poeding bak. Verhit eenvoudig die sous bestanddele saam en roer tot die suiker opgelos is. (Wenk: jy kan ’n sopie goeie brandewyn ook bygooi.) Gooi die warm sous oor die malva sodra hy uit die oond kom. Soos ek as dit kom by nommer-12 skinny jeans, sal jy nooit dink alles gaan pas nie. Dit doen. Gooi stadig, en die malva spons slurp hom op. Sif bietjie kaneel oor (dis opsioneel) en bedien warm met vanielje-roomys (dis nie opsioneel nie).
Hierdie malva poeding hou uistekend (toegemaak en in die yskas natuurlik) tot die volgende dag. Verhit dit eenvoudig in jou mikro. Ek geniet ’n koppie rooibos saam met my oorskiet malva poeding. Enigste probleem is ek doen dit agtuur in die oggend, en noem dit ontbyt. Vandaar die geneuk met die nommer-12.
Resep opsie:
Ek het parmantige baba toffie appels hierby gesit. Dis natuurlik nie nodig nie, maar dis pret. Kry die resep hier. Onthou net dit beteken ekstra suiker, so as jy hierdie pad volg sal jy die suiker in die malva effe moet verminder of jou ore gaan krul.
bedien
8
vooraf
10 min
bak
40-50 min
Wil net sê hoe oneindig dankbaar is dat ek op jou resepteblad afgekom het. Ek het die afgelope week al 2 daarvan gemaak (soet en sout) en my man het my 10/10 gegee vir my probeerslae! Nogmaals dankie, ek het nou ‘n hele MELKKOS EN MERLOT-resepteboek en het al klaar daarvolgens my etes beplan vir die naweek as ons kinders kom kuier. Hulle is altwee fynproewers van formaat – my seun is ‘n restauranteur (The Countess in Mellville Johannesburg) en ons dogter kook ook ‘n storm los. Dankie dat jy jou kennis deel, en vir die lekker verskeidenheid en nuwe idees. Ek kook nou met nuwe ywer!
Dankie Antoinette, hoop julle het dit geniet!