Dis nie aldag wat mens kans kry om ’n soetkoekie resep wat meer as 200 jaar oud is te maak nie. Laas naweek was sulke tyd. Oor my Saterdagoggend koppie boeretroos op die voorstoep sit en blaai ek deur een van ouma se vele kookboeke wat my kant toe gekom het na ma se dood. Julle ken mos van daai boeke – die verflenterde skoolboek tipe met geel-gebleikte bladsye propvol kriptiese krabbelnotas vir miltsiekte, brandy snaps en melktert. En dan’s daar die uitgeskeurde ingeplakte tydskrif- en koerantresepte met krulhoeke, want gom is nie gemaak om vir ewig te kleef nie.
Hiérdie resep is so ene. Die koerantknipsel is amper heuning-geel van die oud. Watter koerant dit is dié weet ek nie, want ouma het daai deel nie uitgeknip nie. Miskien Die Vaderland, want ouma was ’n hoëveld nooi. Oor die datum is ek ook nie duidelik nie, maar langs hom is ’n tydskrifresep van 1952. As ek aanneem ouma was kronologies met die plakkery, is dié koerantknaap dus minstens oor die 60 jaar oud.
Maar dis nie die ouderdom van die knipsel wat my effe aan my koffie laat stik van die opgewondenheid nie. Dis die naam bo aan. Andries Pretorius. Soos in die Voortrekker leier na wie Pretoria vernoem is. Dis sy soetkoekie resep hierdie. Of eerder sy vrou s’n, want ek twyfel Andries het koekies gebak. Aldus die knipsel het die koerant die resep gekry by een van sy nasate, ene Judith Engelbrecht van Pretoria. Sy was toe reeds 78, so sy’s lankal weg. Maar haar en haar voorsaat se soetkoekies leef voort. En dís die wonderlike ding van resepte deel. Hier’s hy – Andries Pretorius se soetkoekies.
Al wat jy nodig het is…
6k koekmeel
5t bakpoeier
1t neut
1 t fyn naeltjies
1t kaneel
¼t sout
2k wit suiker
3k koue gesoute botter
4 ekstragroot eiers
1 eier, geklits met 2E water of melk
Sif die droë bestanddele saam. Vryf die botter in met jou vingers tot dit verdwyn in die meel. (As jy lui voel kan jy dit in jou voedselverwerker pols. Ek’s seker Andries se vrou sou as sy kon!) Klits die vier eiers en gooi dit by en knie tot die deeg bymekaar kom. Dit sal aanvanklik hopeloos te droog lyk, maar moenie swig en water of melk byvoeg nie! As dit ’n baie warm dag is en die deeg voel gevaarlik slap om uit te rol, sit dit eenvoudig in kleefplastiek en plaas in die yskas vir ’n halfuur of wat om fermer te word. As dit ’n koue dag is kan jy sommer dadelik uitrol.
Besprinkel jou werkoppervlak met koekmeel en rol die deeg dun uit – so 4mm. Druk koekies uit en plaas op ’n gesmeerde bakplaat. Verf met die eier geklits met water of melk en bak vir 10-15 minute in ’n 200 grade Celsius oond tot lig goudbruin. Die soetkoekies sal natuurlik sag wees as hulle uitkom, maar met die afkoel hard word. Bêre die soetkoekies in ’n lugdigte houer. Hierdie resep maak ’n allemintige 140 soetkoekies. Families was duidelik groot toeka. Halfveer hierdie soetkoekie resep eenvoudig as jy minder wil bak.
maak
140
vooraf
30 min
bak
15 min
Die foto wat jy by hierdie resep geplaas het, bring vir my ou herinneringe terug: die blik links bo in die foto kon jy 60 jaar gelede in elke huis kry. Dit was nl die blik waarin Mazawattee tee verkoop is en die tannie op die blik se prentjie was Ouma Mazawattee. My pa was die eienaar van ‘n kruidenierswinkel (voor die dae van supermarkte) en hierdie blikke was ‘n bekende gesig op sy winkelrak gewees. Groete
Ek het ‘n paar van hierdie wonderlike ou blikke, almal ouma s’n wat ek kan onthou uit my kinderdae. Sy het hulle in die kas gehou want vir haar was dit niks besonders nie. Vandag pronk myne waar ek hulle kan sien!
Ek bak dit die naweek ….. my voriges, sê manlief, proe nie soos die “regte outydses” nie …
Oud is hierdie resep gewis. So hopelik kom dit naby wat hy onthou. Lekker bak!