Skandes, smeerstories, gekrenkte egos, dreigemente, … Dis realiteitstelevisie op sy beste. Jip, Amerika se toekomstige president, Die Don, is vet pret. My fasinasie met wat daar oorkant die water aan die gang is grens aan die morbiede. En laat ek nou maar eerlik wees, daar’s ’n gesonde skoot ‘schadenfreude’ ook. Ek weet dit sê min van my.
‘Amerikaans’ is nie iets wat ek dikwels kook nie. Maar met die dat my TV deesdae so te sê permanent op CNN ingeskakel is vir al Die Groot Geel Een se jongste mannewales, besluit ek dis tyd om iets daaraan te doen. ‘Southern Fried Chicken’ is so Amerikaans as kan kom. Gewild is dit gewis. Daai kolonel van Kentucky het tog ’n hele sakeryk daarop gebou.
Doen jy dit reg, is ‘Southern Fried Chicken’ bros buite en sappig binne. Met dit in die kop Google ek ’n hond uit ’n bos. Jamie Oliver sit die hoender vir sy ‘Southern Fried Chicken’ oornag in ’n soutoplossing voor hy dit marineer. Kyk ek’s nie lui in die kombuis nie, maar so soutbad is iets wat ek miskien net mee sal bodder vir ’n allemintige kalkoen. En dis net as dit Kerstyd is en opstêrs familie kom. Vir ’n hoenderboud is dit te veel moeite.
Sommige resepte marineer die hoenderstukke in karringmelk. Dit maak dit blykbaar ekstra sag en sappig. Ek besluit dit klink na ’n plan en sit die lot in die yskas vir ses ure. Ek kon net sowel nie, want die hoender wat ek proe is g’n niks sappiger as enige ander hoender wat ek kook nie. Nee, die groot geheim vir ekstra sag en sappig is nie waarin jy dit marineer nie, maar die kwaliteit van die hoender. ‘Free range’ móét dit wees, en jongerig. ’n Plaashaan wat vir ses jaar in Tant San se groentetuin geskrop het is miskien ‘free range’, maar ság gaan hy nie wees nie.
Al wat jy nodig het is…
8 ‘free range’ hoenderborsies en dye, sonder vel
sonneblomolie vir diepbraai
MENGSEL 1
½ koppie koekmeel
½t sout
1t swartpeper
MENGSEL 2
3 eiers
¼ koppie melk
1E Sriracha rissiesous
MENGSEL 3
2 koppies bruismeel
1 koppie Kellogg’s ‘corn flakes’, in jou voedselverwerker geblits tot dit soos broodkrummels lyk
2t droë tiemie
2t knoffelsout
2t paprika
¼t rooipeper
Meng die bestanddele vir die drie mengsels in drie bakkies. Doop die hoenderstukke in die eerste mengsel en skud orige meel liggies af. Doop die hoender in die tweede mengsel en dan dadelik in die derde mengsel. Wees mildelik met die derde een en gebruik jou vingers om dit effe aan te druk.
Braai die hoender tot deurgaar in medium-warm (170 grade Celsuis) olie ten minste 5cm diep. Jy kan nie alles op een slag insit nie, jy moet dit in sarsies braai om te verhoed dat jou olie te koud word. Die dye sal so 15 minute vat, die boudjies minder. Lig die hoender versigtig met ’n gleuflepel uit (’n tang sal die bros kors beskadig) en dreineer op kombuispapier. Bedien die hoender dadelik.
WENK: Jy kan indien jy verkies die hoender vir net so vier minute diepbraai en dan in ’n 180-grade oond rooster tot deurgaar. Maak net seker jy sit die hoenderstukke op ’n rakkie wat jy op ’n bakplaat plaas. Sit jy dit direk op die bakplaat, gaan hy die kors onder afruk.
bedien
4
vooraf
10 min
kook
15-20 min
Oe, Lizet… My mond WATER. Dit lyk by verre lekkerder as die kolonel s’n. (En terloops, daar is niks verkeerd met ‘n lekker dosis schadenfreude so elke nou-en-dan nie – veral met die situasie soos dit nou daar oor die water gaan ;-)
O jete Suzanne, soos dinge die laaste week daar oorkant die water gaan kry my Schadenfreude sommer ‘n hoofletter!